Preek Sketse - 02 Maart 2025

 

Oggend Diens

 

Sing: Ps. 89:1,3; Ps. 89:6; Ps. 119:5,6; Ps. 103:9,10; Ps. 47:1,2,4.

Lees: 1 Pet. 2:11-17

Teks: 1 Pet. 2:13

Tema: Christus ons Here eis onderdanigheid en ʼn skoon lewenswandel as getuienis in die wêreld.

 

1Pet2:11-17

 

11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;

12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer,

14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.

15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring,

16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.

17 Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.

 

Tema: Christus ons Here eis onderdanigheid en ʼn skoon lewenswandel as getuienis in die wêreld.

 

Getuienis deur ʼn skoon lewenswandel.

Die gelowiges wat die brief van die apostel Petrus ontvang leef wydverspreid oor Klein-Asië as vreemdelinge en bywoners. Te midde hiervan kan hulle weet dat hulle volwaardige burgers van God se koninkryk is, omdat hulle die uitverkore geslag van God is. Die implikasie hiervan is dat die gesag van Christus die hoogste gesag in hulle lewe is. Petrus vermaan hulle tot ʼn skoon lewenswandel wat as ʼn getuienis tot die heidene sal dien. Die gelowige bely nie net sy geloof nie, maar moet dit ook uitleef.

 

Getuienis deur onderdanigheid.

Die owerheid in die dae waarin Petrus hier skryf het geen voordele aan die Christelike gemeenskap gegee nie, inteendeel. Alhoewel die fisiese vervolging van Christene deur die staat nog nie hier plaasgevind het nie, het die Romeinse owerheid dit moeilik vir die Christene gemaak. Tog vermaan Petrus hulle om ondanks dit alles hulle aan die owerheid te onderwerp. Die getuienis van gehoorsame burgers  sal eindelik die aanklagte en die onkunde van die heidene en die dwase stilmaak. Deur hierdie getuienis word die koningskap van Christus in alle omstandighede erken.

 

Getuienis deur diensbaarheid.

Die slotsom waartoe Petrus die uitverkorenes van die Here bring is die wete dat hulle dit doen as diensknegte van die Here. In die daaglikse bestaan van die gelowige word die getuienis dat Christus Here en koning is sigbaar in die diensbaarheid van sy kinders. Al is hierdie gelowiges vreemdelinge wat aan moeilike omstandighede onderwerp is het hulle die vryheid in Christus ontvang om as diensknegte aan God gehoorsaam te wees. As diensknegte moet ons as gelowiges getuig deur God te vrees, die koning te eer en mekaar as broeders lief te hê.

 

—————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————

Aand Diens

 

Sing: Ps. 146:1,2,3; Ps. 43:1,4,5; Ps. 84:3,4.

Lees: Joh.3:1-21; Son 7.

Teks: Joh. 3:16; Son 7.

Tema: Ons word deur die ware geloof soos dit in die Skrif openbaar word aan Christus en mekaar verbind.

 

Joh3:1-21

 

1 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.

2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.

3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?

5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.

6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

7 Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.

8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

9 Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?

10 Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?

11 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.

12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?

13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

14 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,

15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

19 En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

20 Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.

21 Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.

 

Sondag 7

 

Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Antwoord: Nee; (a); maar slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).

(a) Matt 7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh 1:12; 3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20; 3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39; 11:6.

 

21 Vraag: Wat is ’n ware geloof?

Antwoord: ’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

(a) Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.

 

Vraag 22: Wat moet ’n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

(a) Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.

 

Vraag 23: Hoe lui die artikels?

Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en ’n ewige lewe.

 

Tema: Ons word deur die ware geloof soos dit in die Skrif openbaar word aan Christus en mekaar verbind.

 

Ware geloof is ʼn verbintenis met Christus.

In Sondag 7 word daar meer gevra met betrekking tot ons verlossing. Almal het in Adam gesondig maar nie almal word deur die koms van die Middelaar uit die ellende verlos nie. Slegs die wat deur ʼn ware geloof in Christus ingelyf is en sy weldade aanneem. Nikodemus het in die nag na Christus gekom met die vraag rondom sy saligheid. Christus antwoord dat alleen die wat wedergebore is in die koninkryk kan ingaan. Deur die wedergeboorte word ons nuut gemaak en aan Christus verbind en kan ons sy weldade aanneem

 

Ware geloof is ʼn verbintenis op grond van die Woord

Die verbintenis met Christus impliseer dat ons ook aan sy Woord verbind word. Die verbintenis met die Woord van Christus sien ons duidelik in die betekenis wat ons belydenis aan geloof gee. Die gelowige kennis en vertroue word deur God die Heilige Gees in ons gewek, maar deur die bestudering en verkondiging van die Woord kan ons meer en meer groei in die kennis  van die Woord. Die implikasie hiervan is dat die gelowige kind van die Here voortdurend met die Woord moet besig wees om in kennis en vertroue te groei.

 

Ware geloof is ʼn verbintenis in die kerk.

Gebind aan Christus op grond van die Woord van die Here word die wonder van die geloof in nog meer diepte aan ons voorgehou. Die inhoud van dit wat ons glo is die samevatting van die evangelie soos ons dit in die 12 artikels bely. Sondag na Sondag kan ons dit saam met mekaar persoonlik opsê om daarmee te betuig dat ons die wonder van geloof met mekaar deel. In die verdere behandeling van die 12 artikels sal ons sien hoe elkeen van hierdie artikels ons voor die troon van God stel. So word ons deur die geloof aan Christus, sy Woord en mekaar gebind.