Preek Sketse - 04 Mei 2025

 

Oggend diens

 

Sing: Ps. 122:1,2; Ps. 118:8; Ps. 19:4,6; Ps. 71:1,3,4; Ps. 31:3,4,5

Lees: Ps. 27

Teks: Ps. 27:1

Tema: Ons het niks om te vrees nie omdat ons weet dat ons deur God beskerm word.

 

PSALMS 27

 

Die Here my lig en my heil!

 

1 'n PSALM van Dawid.

Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?

2 As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet — my teëstanders en my vyande, ja, myne — struikel hulle self en val.

3 Al word 'n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.

4 Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

5 Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op 'n rots.

6 En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here.

7 Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.

8 Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here!

9 Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!

10 Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.

11 Here, leer my u weg en lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande.

12 Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.

13 o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...

14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!

 

Tema: Ons het niks om te vrees nie omdat ons weet dat ons deur God beskerm word.

 

Die aanslag wat ons beleef.

Ons leef in die tyd van misdaad, geweld en doodslag. Hierdie omstandighede kan ons vervul met vrees. Te midde van die feit dat vrees so bekend is aan ons is moet ons as kinders van die Here ook die Here se Woord hierin hoor. In Psalm 27 word die belydenis van Dawid, dat hy niks het om te vrees nie, verwoord. Hierdie belydenis word uitgespreek in die midde van ʼn groot aanslag op sy lewe. Die kwaaddoeners kom teen hom in opstand en soek sy lewe. Die aanslag teen die kinders van die Here het sy oorsprong by Satan se magte wat teen die regeermag van God in opstand gekom het.

 

Die beskerming wat ons ontvang.

De taalgebruik van Psalm 27 maak dit duidelik dat die kind van die Here in die midde van die aanslae wat hy beleef niks het om te vrees nie. Hy spreek dit nie uit as bloot ʼn moontlikheid dat hy die beskerming van die Here sal ontvang nie, maar as ʼn vaste sekerheid. Die sekerheid van God se beskerming lê in die feit dat Hy sy lig en heil is. God dryf die duisternis buite en is die lig van ons lewe. Die heil wat hy gee wys op die beskerming wat die gelowige in sy teenwoordigheid ontvang. Soos Hy ons gees bewaar en beskerm sal Hy ons ook na die liggaam beskerm.

 

Die afhanklikheid wat ons bely.

Wanneer ons voor die wonder van God se beskerming gestel word moet ons erken dat ons daarvan afhanklik is. In die opbou van die Psalm sien ons dat die feit van God se beskerming in die eerste deel gestel word en dan in die tweede deel ʼn verdere gebed om beskerming. Behalwe vir die feit dat God se beskerming ons oproep tot lof van sy naam moet ons ook ons afhanklikheid van Hom bely.