Preek Sketse - 10 Augustus 2025

 

Sing: Ps. 48:1,4;  Ps. 48:5; Ps. 25: 1,2; Ps. 66:1,2,3; Ps. 66:6,7,9.

Lees: Ef. 2:1-10

Teks: Ef. 2:3

Tema: God wek uit ons dooie toestand op in ʼn nuwe lewe om die goeie te doen.

 

Efesiërs 2:1-10

1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes

2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,

3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,

5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus--uit genade is julle gered--

6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,

7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.

8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

 

 

Tema: God wek uit ons dooie toestand op in ʼn nuwe lewe om die goeie te doen.

 

Ons is dood.

Die eerste drie hoofstukke van Efesiërs is ʼn loflied is wat die grootheid van die Here besing. In die tweede hoofstuk word die loflied uitgebrei om die gemeente nog verder te onderrig oor die implikasie van die Here se seëninge. Die klem bly egter op dit wat die Here gedoen het. Maar om die wonder van God se seëninge te verstaan moet die mens homself eers sien in die dooie sondige toestand wat sy eie ongehoorsaamheid hom gedompel het. In ons selfondersoek voor nagmaal moet ons in die eerste plek sien dat ons in die sonde dood is en dat ons diep afhanklik van verlossing is.

 

Ons lewe

Te midde van die dooie toestand waarin ons onsself bevind word id genade van die Here daarin geopenbaar dat Hy weer die lewe aan ons gee. Ons dooie toestand word verander. Dit kan nie uit onsself gebeur nie, maar alleen uit die hand van die God. Dit is deur die gawe van ʼn nuwe lewe wat God sy genade en sy liefde nie net aan ons nie, maar ook aan die res van die wêreld bekend maak. Die genade is geopenbaar in die feit dat God met die mens bemoeienis gemaak het nog voordat ons onder die besef van ons ellende gekom het. In die  tweede deel van ons self ondersoek oordink ons hierdie genade wat daar vir ons in Christus gegee is.

 

Ons doen die goeie

Die nuwe lewe wat daar aan ons in Christus gegee is het nou geweldige effek vir die res van ons bestaan in hierdie bedeling. Die nuwe lewe roep ons nou om opnuut die goeie te doen. Maar hier moet ons goed oplet. Die goeie werke is  die werke wat ons self uitdink om nou in diens van God te doen nie, maar dit is die werke wat Hy reeds vir ons voorberei het. By die skepping van die mens het hy alles goed geskape. Daar is die werke reeds voorberei wat die mens moet doen. Nou kan die nuwe mens hierin volhard. In die derde deel van ons selfondersoek moet ons daarom ons optrede in ons nuwe lewe beoordeel.

 

Aand Diens—Ds C Jooste

 

 

 

Sing: Ps. 135:1,2; Ps. 47:3,4; Ps. 8:1,2,5.

Lees: Joh. 16:1-22; Son 18

Teks: Joh. 16:5a; Son 18

 

Tema: Christus se Hemelvaart verseker ons van sy voorspraak in die hemel en op die aarde.

Joh 16:1-22

1 Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie.

2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom 'n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys.

3 En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie.

4 Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was.

5 En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie?

6 Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.

7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;

8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;

10 en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie;

11 en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.

12 Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.

13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

16 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.

17 Sommige van sy dissipels het toe onder mekaar gevra: Wat is dit wat Hy vir ons sê: 'n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader?

18 Hulle het dan gevra: Wat is dit wat Hy sê: 'n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie.

19 En Jesus het gemerk dat hulle Hom wou vra, en Hy sê vir hulle: Ondervra julle mekaar daaroor dat Ek gesê het: 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien?

20 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.

21 'n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat 'n mens in die wêreld gebore is.

22 Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.

 

Sondag 18

 

46 Vraag: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?

Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem en Hy is vir ons daar ten goede totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het.

 

47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.

 

48 Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig. Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

 

49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie. 

 

 

Tema: Christus se Hemelvaart verseker ons van sy voorspraak in die hemel en op die aarde.

 

Christus vaar op in die hemel

 In die behandeling van die Kategismus val dit op dat daar veel meer oor die feit van Christus se Hemelvaart bely word as wat dit die geval is met betrekking tot die opstanding. Die kerk van alle eeue moet dit weet en glo en bely Christus het werklik opgevaar ons na sy menslike natuur in die hemel ten goede te wees. Voordat Christus oorgegee word om aan die kruis te sterf leer Hy eers sy dissipels van hierdie feit wat sal plaasvind. Nadat Hy die verlossing aan die kruis verwerf het sal hy na sy Vader in die hemel gaan.

 

Christus tree vir ons in die hemel

Die Hemelvaart van Christus vind nie plaas omdat Hy nie meer in die midde van sy volk wil leef nie, maar dit is met ʼn spesifieke doel dat die Here dit gee. Christus vaar met sy menslike liggaam op in die hemel sodat Hy daar vir sy kinders kan intree. As God is hy natuurlik ook hier op aarde in ons midde maar menslik is hy nou daar terwille van ons voor die Vader. Hy tree vir ons in wanneer ons nog in die sonde val. Met hierdie tussenkoms van Christus word ons nou verseker dat ons ook liggaamlik in die teenwoordigheid van God sal leef.

 

Die Trooster tree vir ons in op aarde.

Tog leef die gelowige kinders van God nie met die kop in die wolke as of daar geen nut en betekenis in hierdie wêreld is nie. Terwyl ons in hierdie bedeling steeds elke dag moet volhard om tot die eer en verheerliking van God se naam te arbei kan ons seker wees dat Hy sy Gees aan ons gegee het. Hy is ons Trooster en ons Helper wanneer ons daaglikse stryd nog woed. Deur die werking van die Gees kan ons daaglikse volhard in die sekerheid dat ons eindelik erfgename van die ewige lewe in gemeenskap met God ons Vader sal wees.