Preek Sketse - 16 Maart 2025

 

Oggend Diens

 

Sing: Ps. 135:1,2; Ps. 135:8; Ps. 118:9; Ps. 147:6,7; Ps. 95:2,4.

Lees: Matt. 13:1-23

Teks: Matt. 13:11

Tema: Die evangelie van die koninkryk is vir die ongelowiges verberg, maar aan die gelowiges geopenbaar sodat ons kan groei en vrug dra.

 

Mat 13:1-23

 

1 En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit.

2 En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan.

3 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ‘n Saaier het uitgegaan om te saai;

4 en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.

5 En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie;

6 maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.

7 En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.

8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd—, die ander sestig—, die ander dertigvoudig.

9 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

10 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?

11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.

13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.

14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

16 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.

17 Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.

18 Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.

19 As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is.

20 En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;

21 maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.

22 En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.

23 En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd,die ander sestig—, die ander dertigvoudig.

 

Tema: Die evangelie van die koninkryk is vir die ongelowiges verberg, maar aan die gelowiges geopenbaar sodat ons kan groei en vrug dra.

 

Die evangelie word gesaai

Christus se bediening hier op aarde het nie by almal dieselfde reaksie ontlok nie. Wanneer mense die evangelie van die koninkryk hoor is daar mense wat dit verwerp en ander wat dit aanneem en glo. Met die gelykenis van die saaier leer Christus sy dissipels dat daar verskillende reksie op hulle verkondiging sal wees. Die saaier is die Seun van die mens wat uitgaan en die heerskappy van die Here bedien, en die saad is die Woord van God. Dit is eindelik die roeping van die kerk om uit te gaan en hierdie evangelie te gaan verkondig

 

Die evangelie word verberg

Die wat die evangelie van die koninkryk hoor, maar nie daarop ag gegee nie is soos hulle wat hoor maar doof is en hulle wat sien maar blind is. Daar is hulle wat hoor en glad nie ag gee op die woord nie. dit is die dwaas wat die wysheid van die Here se woord verag en dit verwerp. Waar die saad tussen die rotse val is dit hulle wat hoor en aanvanklik ag gee op die Woord, maar nie in hulle geloof verdiep nie. Die ander is die wat die Woord hoor, maar so in die wêrelde opgeneem is dat die wêreldse plesier en  dit eindelik verstik

 

Die evangelie word openbaar

De genade van die Here is egter groot wanneer die saad van die woord op goeie en vrugbare grond val. Dit is waar die hart voorberei is deur die Gees van die Here. Ten spyte van die hardheid, vlakheid en wêreldlikheid waarbinne die kerk van die Here haar roeping moet uitvoer voorsien die Here voorbereide harte wat die goeie nuus van die evangelie sal hoor, dit verstaan en veelvoudige vrug dra. Eindelik sal die Here die werk end ie roeping van sy kerk  kinders seën.

—————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————

 

Aand Diens

 

Sing:  Ps. 33:1,5; Ps. 19:1; Ps. 104:1,2,4,5.

Lees: Hand. 17:15-34; Son 9.

Teks: Hand. 17:24-25; Son 9

 

Hand 17:15-34

 

15 En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.

16 En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.

17 Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.

18 En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.

19 En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?

20 Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.

21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

22 Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.

23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.

24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.

26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,

27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;

28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.

30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,

31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

32 Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.

33 En so het Paulus van hulle weggegaan.

34 Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en ‘n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.

 

Sondag 9

 

Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhouen regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ’n almagtige God kan (f) en ook as ’n getroue Vader wil doen (g).

 

(a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28. (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.

 

Tema: God is ons Skepper en Vader ter wille van Jesus Christus.

 

God die Vader skep alles

God wat van ewigheid bestaan het op ʼn bepaalde tydstip bepaal om alles wat ons sien in aanskyn te roep. Hy is die Skepper van alle dinge. Wanneer Paulus in die stad Athene rondloop en op sy reisgeselskap wag sien hy al de verskillende standbeelde en altare vir die afgode. Hy sluit aan by die altaar van die onbekende God en verkondig die evangelie aan die heidene deur God die Skepper aan hulle bekend te maak. Die gelowige wat bely dat Hy in God glo moet Hom as die Skepper, maar ook as Vader bely

 

God die Vader gee versorging.

Ons Vader het egter nie net vir ons ʼn woonplek in aanskyn geroep en Hom toe onttrek van sy skepping nie. Hy onder hou en regeer so dat ons as kinders geen gebrek het nie. Ter wille van Christus het Hy nou my Vader geword wat in alle dinge in oorvloed aan my voorsien. Die wonder van hierdie belydenis is dat ons deur die ewige raad en voorsienigheid die versorging uit die hand van ons Here sal ontvang. Alles wat ons nodig het vir liggaam en siel word in hierdie bedeling mildelik aan ons gegee.

 

God die Vader eis vertroue.

Hierdie wete bring eindelik ʼn heerlike roeping vir ons as kinders van ons Vader voort. Omdat Hy ons geskape het en ons nog onderhou en regeer kan ons nou vas vertrou dat Hy ons met alle middele sal versorg. Ons kan nou seker wees dat Hy ons nie sal verlaat en aan ons self oorlaat nie. Daarom leef ons hier op aarde steeds afhanklik van al die gawes wat Hy aan ons sal gee.