|
Preek Sketse - 1 Februarie 2026
Oggend diens—Dr Christiaan Jooste 1 Februarie 2026 Oggend diens Sing: Ps. 107:1,3; Ps. 107:10; Skr. 33:1,3; Ps. 97:1,4; Ps. 146:1,2,4. Lees: Eks 3:16-22 Teks: Eks 3: 16c Tema: Ons kan ons roeping uitleef te midde van teëstand want die Here bepaal die uitkoms
Eks 3: 16-22
16 Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is. 17 Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. 18 En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer. 19 Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur 'n sterke hand nie. 20 En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek. 21 En Ek sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie, 22 maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer-- en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.
Tema: Ons kan ons roeping uitleef te midde van teëstand want die Here bepaal die uitkoms
Die raad van die Here Wanneer ons aan die Here se roeping gehoorsaam is ervaar ons dikwels teëstand. Soms is die teëstand net geen reaksie nie, maar dikwels is openlike weerstand. Die gelowige moet in hierdie omstandighede steeds gehoorsaam aan die Here sy roeping uitleef. Die Here gee die opdrag aan Moses om die oudstes by mekaar te bring en aan hulle sy verlossingsplan mee te deel. Hy het ag gegee op hulle nood en Hy het besluit om hulle te verlos. Israel moet dus van die begin verstaan dat dit die Here is wat in hulle midde gaan werk.
Die oordeel van die Here Israel sal die genade van die Here sien en beleef dat Hy hulle verlos, maar die Egiptenaars sal nie net toeskouers wees van die Here se werke nie. Hulle sal weerstand bied en dan sal die Here sy regverdige oordeel oor hulle bring. Die Farao se weerstand sal met die Here se sterk hand uit die weg geruim word en eindelik sal sy volk trek. Christus het na die verlore skape van die huis van Israel gekom maar hulle het ook weerstand teen sy roeping gebied. Eindelik oordeel die Here ook daarin regverdig
Die genade van die Here Aan die een kant tref die Here Egipte met sy regverdige oordeel, maar ter selfde tyd is dit deur die hand van die Here wat Israel verlos word. Die wonder van die Here se verlossing vir Israel is dat hulle nie met leë hande sal trek nie. Die Egiptenaars sal die verbitterd wees as hulle trek nie, maar hulle sal met goud en silwer en klere vertrek. Die Here se genade is met ons wanneer ons in gehoorsaamheid aan sy woord volhard om ons roeping uit te leef.
Aand diens—Dr Christiaan Jooste Aand diens Sing: Ps. 75:1,4,6; Ps. 81:1,10; Ps. 135:1,8. Lees: Deut. 7:1-13, Son 34 Teks: Deut. 6:4, 7:6; Son 34. Tema: God eis dat Hy alleen gedien en vertrou moet word omdat Hy getrou is.
Mark 12: 28-34
1 As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; 2 en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. 3 Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie--jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; 4 want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg. 5 Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand. 6 Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. 7 Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. 8 Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. 9 Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. 10 Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit vergelde. 11 Hou dan die gebod en die insettinge en die verordeninge wat ek jou vandag beveel om dit te volbring. 12 En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; 13 en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee.
Son 34b
SONDAG: 34 - VRAAG EN ANTWOORD: 94 Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod? Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels, vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou , my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel. SONDAG: 34 - VRAAG EN ANTWOORD: 95 Vraag: Wat is afgodery? Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.
Tema: God eis dat Hy alleen gedien en vertrou moet word omdat Hy getrou is.
God is ʼn enige Here Moses herhaal die wet van die Here voordat hierdie nuwe geslag die land in besit gaan neem. Hier speel die bepalings van die eerste gebod ʼn baie belangrike rol. Israel moet hoor en weet dat die Here ʼn enige Here is. Daar is geen ander God behalwe Hy nie. Die feit dat Hy die enige ware God is vorm die fondament waaruit al die ander gebooie en bepalings voortvloei. So het Hy hom van die begin van die skepping aan die mens en later aan sy verbondsvolk openbaar. Omdat Hy Homself so aan ons bekend gemaak het moet ons Hom alleen aanbid.
Ons aanbid die enige Here In die verklaring wat die Kategismus aan die eerste gebod gee word dit duidelik dat die aanbidding van die Here alleen veel wyer strek as bloot net die gebed. Ons word geroep om die ware God in die eerste plek reg te leer ken, soos wat Hy Hom in sy Woord aan ons bekend gemaak het. verder moet ons ons aan Hom en sy wil onderwerp terwyl ons in alle afhanklikheid alleen op Hom vertrou. Die implikasie hiervan is duidelik dat ons hele lewe en al ons verwagtinge op die Here alleen gerig moet wees
Ons vlug weg van die afgode. Om God alleen te aanbid het nou die implikasie dat ons van alle praktyke van afgodery moet wegvlug. Geen skepsel wat die mens vir homself uitdink mag in die plek van die enige ware god gestel word nie. vertroue moet ook nie in enige skepsel gestel word nie. Alle bygeloof en towery en waarsêery is werke van die duiwel self en hoort nie in die lewe van die gelowige kinders van die Here nie. Die afgode is dooie beelde en die versinsels van mense wat nie met die enige ware God gelykgestel kan word nie. |
