Preek Sketse - 22 Februarie 2026

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

22 Februarie 2026

Oggend diens

Sing: Ps. 68:1,2; Ps. 68:13; Ps. 38:1,8; Skr. 31:1; Ps. 150:1,3.

Lees: Open. 19:11-21

Teks: Open. 19:11

Tema: Christus kom weer as Oorwinnaar-Koning wat in sy kerk en skepping regeer

 

Open 19: 11-21

 

11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

12 En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.

13 En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.

15 En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. 17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met 'n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God,

18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.

19 En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.

20 En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het,

waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.

21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.

 

Tema: Christus kom weer as Oorwinnaar-Koning wat in sy kerk en skepping regeer

 

Die wederkoms van die Oorwinnaar-Koning

In die boek Openbaring is daar geen twyfel oor die Koningskap en oorwinning van Christus oor die satan en sy magte nie. reeds aan die begin, as Jesus aan Johannes verskyn kom sy Koningskap duidelik na vore. Die oorwinning van Jesus word verder beklemtoon wanneer Babilon tot ʼn val kom en Hy op ʼn wit perd ry. Hy is trou en waaragtig en aan Hom behoort die heerlikheid en heerskappy. In die Nagmaal kyk ons nie net terug na sy kruisdood nie, maar kyk ons ook vorentoe na sy wederkoms

 

Die regering van die Oorwinnaar-Koning

Johannes sien nie net die Oorwinnaar-Koning nie, maar hy beskryf ook duidelik wat Hy kom doen het. Hy kom weer om sy regeermag ten volle uit te voer. Hierdie regeermag bring die genade en verlossing vir sy kinders tot uiting, maar vir die ongelowiges bring dit sy regverdige oordele. Dit doen Hy deur die swaard van sy Woord wat uit sy mond uitgaan. Hierdie twee snydende swaard sny alle sonde en onreg uit sy koninkryk uit.

 

Die oorwinning van die Oorwinnaar-Koning

Wanneer Christus sy regverdige oordeel oor die wêreld fel word sy oorwinning vir sy kinders duidelik. Die wêreld en die heidene wat teen die heerskappy van Christus in opstand was en hulle altyd verset het sal eindelik in totaliteit verneder en verslaan word. Vir ons bring dit die heerlike troos dat Hy oor elke aspek van ons lewe heers en die oorwinning vir ons verwerf het.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aand diens

Sing: Ps. 99:1,2,3; Ps. 96:1,6; Ps. 75:1,2,4.

Lees: Matt 5:33-37; Son 37

Teks: Son 37.

Tema: Omdat God die hoogste Regter is mag ons alleen by sy naam sweer.

 

Matt 5: 33-37

 

33 Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou.

34 Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie--nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;

35 ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning;

36 ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.

37 Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.

Son 37

 

VRAAG : 101 Vraag: Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?

Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond, en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik.

VRAAG: 102 Vraag: Mag 'n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?

Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste Kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer. Hierdie eer kom geen skepsel toe nie.

 

 

Tema: Omdat God die hoogste Regter is mag ons alleen by sy naam sweer.

 

Die basis van die eed.

Die Kategismus behandel die saak van eedswering steeds onder die derde gebod omdat die Here se naam betrek word wanneer die mens die waarheid moet bevestig. Christus leer sy dissipels in die bergrede dat die mens hoegenaamd nie moet sweer nie, omdat die gelowige gebind is om te alle tye die waarheid te praat. Wanneer ons ʼn eed sweer roep ons die Here in sy alwetendheid en Almag in om die waarheid van sy kinders te bevestig. Om hierdie rede moet die eed wat deur die kinders van die Here gesweer word in geloof en met eerbied geskied.

 

Die voorwaarde van die eed.

Om ons te beskerm teen ʼn onheilige en ligtelike eedswering is daar voorwaardes waaraan ons moet voldoen wanneer ons die Here as getuie inroep om die waarheid te bevestig. Dit moet in waarheid en met verantwoordelikheid geskied terwyl dit oor ʼn regverdige saak gaan. Hierin word die eer van die Here  gesoek en die behoud van ons naaste. So word die liefdeseis van die Woord gestand gedoen. Die gelowige kan hierdie dinge doen wanneer sy ja, ja is en sy nee nee.

 

Die betekenis van die eed

In wese dien die eed nie maar net as ʼn bevestiging van waarheid nie, maar ook as ʼn belydenis voor die Here en teenoor die wêreld. Om hierdie rede mag die mens nie ʼn eed voor enige skepsel of by een van die heiliges sweer nie. Dit is God alleen wat die waarheid kan bevestig. God is die enigste kenner van sy kinders se harte en daarom kan Hy alleen getuig van die waarheid. Die teenkant hiervan is dat Hy ons ook sal straf wanneer die waarheid deur ʼn valse eed in gedrang gebring word.