|
Preek Sketse - 8 Februarie 2026
Oggend diens—Dr Christiaan Jooste 8 Februarie 2026 Oggend diens Sing: Ps. 118:1,7; Ps. 118:14; Ps. 61:1,4; Skr.14:1,2; Ps. 149:1,2. Lees: 1 Kor. 5:1-13 Teks: 1 Kor. 5:7,8 Tema: Christus het vir ons gesterf, nou kan ons in reinheid en waarheid leef.
1Kor 5: 1-13
1 'n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so 'n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het. 2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit. 3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus-- 5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. 6 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? 7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees--soos julle inderdaad ongesuurd is--want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid. 9 Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie-- 10 dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan-- 11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. 12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? 13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.
Tema: Christus het vir ons gesterf, nou kan ons in reinheid en waarheid leef.
Ons erken ons sonde Die omstandighede in die gemeente van Korinte was aan die begin baie sleg. Daar was onderlinge verdeeldheid en stryd, die gesag van Paulus is deur sommige bevraagteken en selfs verdag gemaak die en die gemeente was verdraagsaam oor allerhande onsedelikheid in hulle midde. Hulle het sondes verdra wat selfs deur die heidene verwerp is. Hieroor skryf Paulus aan hulle hierdie sterk vermanende brief dat hulle hul sonde moet erken. Om die sonde uit die gemeente te suiwer moet hulle eers erken dat dit in hulle midde bestaan en dat hulle dit verdra.
Ons suiwer die sonde uit Wanneer hulle hul sonde erken het, roep Paulus hulle op en moedig hulle aan om dit uit hulle uit te suiwer. Hy verwys hier na die instelling van die Here dat hulle tydens die Pasga geen ingesuurde brode mog eet nie. Suurdeeg is die simbool van die sonde en dit moet uit hulle midde gesuiwer word. Christus is immers die paaslam wat vir hulle geslag is en waardeer hulle vergif nis van sonde kon ontvang. In ons self ondersoek voor die bediening van die Heilige Nagmaal moet ons onsself ondersoek self die sonde uit ons lewe uitsuiwer.
Ons vier fees in heiligheid Waar die sonde uit die midde van die gemeente gesuiwer word kan die gemeente nou in waarheid en heiligheid voor die Here feesvier. Dit gaan nie hier om ʼn spesifieke fees nie, maar die gelowiges leef nou in die tyd van die voortdurende Paasfees. Christus het vir ons gesterf en nou leef ons vir Hom. Ons dien hom met ʼn dankbare en heilige lewe waarin ons altyd die waarheid soek. So sien ons uit om na die fees van die Nagmaal te kom.
Aand diens—Dr Christiaan Jooste Aand diens Sing: Ps. 149:1,2; Ps. 119:11,14; Ps. 119:19,20. Lees: 2 Sam 6:1-11; Son 35. Teks: Son 35. Tema: Ons kan God alleen vereer wanneer ons Hom dien soos Hy in sy Woord beveel.
2Sam 6: 1-11
1 Daarna het Dawid weer al die uitgesoektes in Israel, dertig duisend, versamel; 2 en Dawid het hom klaargemaak en met al die mense opgetrek wat by hom was, van Báäle-Juda, om die ark van God, waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan te gaan haal. 3 En hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer en dit uit die huis van Abinádab, wat op die heuwel is, gebring. Terwyl Ussa en Agjo, die seuns van Abinádab, die wa drywe, 4 met die ark van God, het Agjo voor die ark geloop. 5 En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die HERE gespeel met allerhande instrumente van sipreshout, naamlik met siters en harpe en tamboeryne, en bekkens en simbale 6 En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel. 7 Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het. 8 En Dawid het ontroerd geword, omdat die HERE 'n skeur aan Ussa geskeur het; daarom het hy daardie plek genoem Peres-Ussa, tot vandag toe. 9 En Dawid het daardie dag vir die HERE bevrees geword en gesê: Hoe kan die ark van die HERE na my kom? 10 Daarom wou Dawid nie die ark van die HERE by hom in die stad van Dawid laat inkom nie, maar Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, die Gittiet, laat wegdraai. 11 En die ark van die HERE het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die Gittiet, gebly, en die HERE het Obed-Edom en sy hele huis geseën.
Son 35
SONDAG: 35 - VRAAG EN ANTWOORD: 96 Vraag: Wat eis God in die tweede gebod? Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie. SONDAG: 35 - VRAAG EN ANTWOORD: 97 Vraag: Mag ons dan glad nie beelde maak nie? Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie. Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien. SONDAG: 35 - VRAAG EN ANTWOORD: 98 Vraag: Mag ons beelde as "boeke van die leke" in die kerkgebou toelaat? Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig.
Tema: Ons kan God alleen vereer wanneer ons Hom dien soos Hy in sy Woord beveel.
God verbied eiewilligheid. In die eerste gebod bepaal die Here dat Israel op grond van ‘n verbondsverhouding Hom reg moet ken en Hom alleen aanbid. In die tweede gebod bepaal die Here nou dat Hy reg aanbid en gedien moet word. In die geskiedenis van die Dawid wat die ark terug bring na Sion is dit opmerklik dat die hele geselskap juis gedoen het wat God in sy wet verbied het. Die ark van die Here is die teken van God se trou en sy versorging, maar die mens gaan eie willig daarmee om. Hy word nie vereer deur ons eiewillige kreatiwiteit nie, maar deur gehoorsaamheid.
God gebied gehoorsaamheid. Die teenkant van die eiewilligheid wat God verbied is dat Hy onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Hom eis. Hierdie gehoorsaamheid vereis in die eerste plek dat daar geen afbeelding van God gemaak mag word nie. Hy is immers die Onsienlike, Alomteenwoordige en Alwetende God. Hy het alles geskape en daarom kan niks in die skepping met Hom gelykgestel word asof dit Hy is nie. Ware diens aan die Here is ʼn lewe van gehoorsaamheid aan dit wat Hy beveel. Dit is ʼn lewe waarin die gelowige Hom sal vereer deur met alle krag te doen wat Hy eis.
God voorsien sy Woord. Voor die Reformasie het die kerk beelde laat maak en in die katedrale geplaas sodat die kerkvolk iets van die Bybelse inhoud deur hierdie beelde kon leer. Nou bely ons egter hier dat die Here gedien word op die basis van die lewende verkondiging van sy Woord. Dit is nie die beelde wat aan ons die evangelie boodskap bring nie, maar die prediking in Gees en in waarheid. Die prediking van die Woord is op die hart van die hele gemeente gerig, volwassenes en kinders. Sy Gees rig ons almal in die waarheid van sy Woord. |
