|
Preek Sketse - 18 Januarie 2026
Oggend diens—Dr Christiaan Jooste 18 Januarie 2026 Oggenddiens Sing: Ps. 18:1,2; Ps. 18:14; Ps. 86:1,2; Ps. 2:1,6; Skr. 24:1,2. Lees: Eks. 3:1-10 Teks: Eks. 3:5 Tema: Die Here is heilig en getrou, maar ook genadig daarom moet ons hom vrees
Eks 3: 1-10
1 En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb. 2 Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! 3 En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. 4 Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. 5 En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. 6 Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien. 7 En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. 8 Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete. 9 En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk. 10 Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.
Tema: Die Here is heilig en getrou, maar ook genadig daarom moet ons hom vrees
Die heiligheid van die Here Die roeping van Moses was ‘n geweldige ingryping in sy eie lewe, maar dit het ook ‘n besondere gevolg vir die Here se volk gehad. By die brandende doringbos sien Moses die Engel van die Here en gaan nader, maar hy moet eers die skoene van sy voete uitrek. Hy word deur die Here geroep, maar steeds moet hy die heiligheid van die Here erken. Wanneer ons bewus is van die Here se werk en roeping in ons lewe, moet dit ons met ontsag vervul, want Hy is die Heilige wat ons roep.
Die getrouheid van die Here Die verskyning van die Here aan Moses bevestig dat die Here in sy heiligheid steeds bemoeienis met sy volk in hulle omstandighede gemaak het. Hy het immers sy verbond met hulle opgerig en Hy sal aan al die beloftes getrou bly. Soos die Here sy heiligheid openbaar, maak hy ook sy getrouheid aan Moses bekend. Dit is eindelik die boodskap waarmee Moses terug kan gaan na die volk en na Farao toe. Die Here se getrouheid word aan ons sigbaar in Christus
Die genade van die Here Op grond van die Here se getrouheid aan sy beloftes sal Hy sy genade aan sy volk betoon. Hulle gaan gebuk onder die dwang van die Egiptenare, maar die Here sal daardie mag verbreek en aan hulle verlossing gee. Te midde van sy heiligheid gee hy ag op die ellende waarin sy kinders verkeer. Hy het in Christus verlossing aan ons geskenk, maar juis daarom moet ons Hom steeds uit dankbaarheid eer. Sy genade is wonderbaarlik groot vir ons.
Aand diens—Dr Christiaan Jooste Aanddiens Sing: Ps. 135:1,2; Ps. 116:1,5; Ps. 116:9,10. Lees: Kol 3:1-17; Son 33 Teks: Kol. 3:2; Son 33 Tema: Ons kan uit dankbaarheid goeie werke doen wanneer ons deur Christus tot ware bekering gebring is.
Kol 3: 1-17
1 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. 5 Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, 7 waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. 8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. 9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het 10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, 11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. 12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. 13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. 14 En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. 15 En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. 16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. 17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Son 33
Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens? Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens
Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens? Antwoord: Dit is ’n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug
Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens? Antwoord: Dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe
Vraag 91: Wat is goeie werke? Antwoord: Slegs die wat uit ’n ware geloof, volgens die Wet van God, tot sy eer gedoen word, en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.
Tema: Ons kan uit dankbaarheid goeie werke doen wanneer ons deur Christus tot ware bekering gebring is.
Die inhoud van ware bekering. Op grond van die vernuwende werking van die Heilige Gees in ons word ons toegerus en versterk om goeie werke te doen. Die vernuwing deur die Gees staan in ʼn baie nou verband met ware bekering. Ware bekering staan geanker in die versoening wat Christus vir ons met die Vader deur sy kruisdood verwerf het. In die sonde was ons dood maar deur die sy werk het Hy ons weer lewend gemaak. Nou het ons die roeping om as lewend kinders van God ons aandag te fokus op die dinge waar Christus is en nie op wêreldse dinge nie.
Die betekenis van ware bekering. Die definisie van wat bekering is word duidelik in ons belydenis vir ons gestel. Dit is die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. So word ons aan die kruis en die opstanding van Christus gebind. Die afsterwing van die ou mens hou in dat ons hoe langer hoe meer die sonde wat nog in ons lewe stryd voer sal doodmaak en oorwin. Ons kan alleen die ou mens vernietig deur die geloof in Christus se oorwinning deur sy sterwe. Die opstanding van die nuwe mens beteken dat ons nou hoe langer hoe meer in die oorwinning van Christus se wandel.
Die gevolg van ware bekering Die gevolg van die ware bekering is die goeie werke wat ons nou doen. dit is die werke wat uit die daaglikse bekering voortspruit. Nie alles wat ons egter doen is goed nie. Daarom moet ons verstaan wat goeie werke is. dit is die werke wat uit ʼn ware geloof voortspruit, wat volgens die wil van God geskied en alleen tot sy eer strek. Dit is die werke wat dien as ʼn versekering van ons geloof en as ʼn getuienis in die wêreld. |
