Preek Sketse - 25 Januarie 2026

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

25 Januarie 2026

Oggend diens

Sing: Ps. 47:1,4; Ps. 99:3; Ps. 135:3,5; Ps. 73:1,10; Ps. 48:4,5.

Lees: Eks 3:11-15

Teks: Eks. 3:14

Tema: Die Here maak Homself aan ons bekend sodat ons gehoorsaam ons roeping kan uitleef.

 

Eks 3: 11-15

 

11  Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? 

12  En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien. 

13  Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord? 

14  En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. 

15  Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag. 

 

Tema: Die Here maak Homself aan ons bekend sodat ons gehoorsaam ons roeping kan uitleef.

Die teken van die Here

 

Die Here roep sy gelowige kinders en stuur hulle om hulle roeping in sy koninkryk te haan uitleef. Om hierdie roeping van ons gehoorsaam te gaan uitleef moet ons in die eerste plek weet wie die Here is. Wanneer die Here vir Moses stuur om die volk uit Egipte te verlos gee die Here heel eerste vir hom ‘n teken. Moses is vrees bevange vir die Farao, maar die Here bevestig dat Hy saam met die volk die Here op hierdie berg, dit is die berg Sinai sal dien. Alhoewel Moses dit nog nie nou sien nie kan hy op die Here vertrou, want Hy het sy beloftes bevestig

 

Die openbaring van die Here

Moses is nog nie seker dat hy sy roeping werklik sal kan deurvoer nie, daarom gee die Here vir hom nog meer sekerheid deurdat Hy aan hom openbaar wie Hy is. Die bekende “Ek is wat Ek is” openbaring word hier aan Moses meegedeel. Hiermee bevestig die Here dat Hy verhewe bo sy skepping is. Hy kan met niks gelyk gestel word nie. Hy is ook ‘n werklikheid wat getrou is aan al sy beloftes. Hierdie openbaring realiseer in die besonder in Jesus Christus wat die Seun van God en ons Verlosser en Saligmaker is.

 

Die seën van die Here

Die feit dat die Here Homself aan Moses en aan sy volk bekend maak bevestig weereens dat Hy aan hulle verbind is. Dit is sy wil en raad dat hulle in ‘n verbondsverhouding met Hom sal leef. dit is eindelik deur die roeping wat Moses moet gehoorsaam en uitvoer dat die Here se seën, nie net vir hom nie, maar ook vir die volk sal sigbaar word. As kerk van die Here sal ons ook onder sy seënende hand ons roeping kan uitleef omdat ons in Christus opnuut lewe.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aand diens

Sing: Ps. 84:1,3; Ps. 86:1,6; Ps. 18:1,14.

Lees: Mark 12:28-34; Son 34

Teks: Mark 12:33; Son 34

Tema: Die wet van die Here roep ons om  uit dankbaarheid God en ons naaste lief te hê.

 

Mark 12: 28-34

 

28  En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal? 

29  En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; 

30  en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. 

31  En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie. 

32  En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; 

33  en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. 

34  Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.

 

Son 34

 

Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here?

Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het

Die eerste gebod

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Die tweede gebod

Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder die aarde is of van wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en nie dien nie, want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die wat My haat. En Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.

Die derde gebod

Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie

Die vierde gebod

Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here, dan mag jy geen werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Die vyfde gebod

Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.

Die sesde gebod

Jy mag nie doodslaan nie.

Die sewende gebod

Jy mag nie egbreek nie.

Die agste gebod

Jy mag nie steel nie.

Die negende gebod

Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.

Die tiende gebod

Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

 

Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?

Antwoord: In twee tafels, waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is.

 

Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel.

 

Vraag 95: Wat is afgodery?

Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.  

 

 

Tema: Die wet van die Here roep ons om  uit dankbaarheid God en ons naaste lief te hê.

 

Die inhoud van die wet.

 

Nadat Jesus met die Sadduseërs in gesprek was oor die opstanding van die liggaam het ʼn sekere wet geleerde na Hom gekom en hom gekonfronteer oor watter een van die gebooie staan eerste. Hier gaan dit nie net oor die eerste gebod nie, maar oor die belangrikheid van die gebooie. Wanneer ons egter in die Ou Testament na die wet van die kyk is dit duidelik dat die een gebod nie belangriker as die ander geag word, maar die hele wet is belangrik voor die Here. In ons dankbaarheidslewe moet ons weet dat die hele wet belangrik is.

 

Die indeling van die wet.

 In die antwoord wat Jesus aan die wet geleerde gee haal hy  Deut. 6:4,5 aan waar die twee tafels van die wet opgesom word. Ons bely dit ook dat die wet ingedeel word in die eerste tafel wat bepaal hoe ons teenoor God moet optree en in die tweede tafel wat bepaal hoe ons teenoor ons naaste moet optree. Die eenheidsband wat hierdie twee tafels aanmekaar bind is die eis tot liefde. Met hierdie indeling van die wet sien ons die realiteit dat ons hele lewe deur die Tien Gebooie omvat word. Ons vanuit die liefde van God met die doel om God en ons naaste lief te hê.

 

Die implikasie van die wet.

Om uit dankbaarheid aan die wet van die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons in liefde tot God en ons naaste leef. Die roeping tot liefde gaan egter oor meer as net ons optrede. Christus wys daarop die wetgeleerde dat hy nie ver van die koninkryk van God is nie. God se wet en sy regering is onlosmaaklik aan mekaar verbind en ons roeping om aan Hom gehoorsaam te wees wys daarop dat ons in dankbaarheid aan Hom onderwerp. Ons onderwerp ons aan Hom want Hy het ons eerste liefgehad.