Preek Sketse - 1 Maart 2026

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

1 Maart 2026

Oggend diens

Sing: Ps.100:1,2,3; Ps. 100:4 ; Ps. 42:1,3; Ps. 97:1,2; Ps. 97:6,7.

Lees: Open. 1

Teks: Open. 1:12

Tema: Christus regeer in die midde van sy kerk

 

Open 1: 1-21

 

1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,

2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het.

3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

4 Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,

5 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed

6 en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!

8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

9 Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus.

10 Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my 'n groot stem gehoor, soos van 'n basuin, wat sê:

11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is:

na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.

12 Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars,

13 en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel.

14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam,

15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.

16 En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

17 En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste

18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.

19 Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is, sowel as die wat gaan gebeur;

20 die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.

 

Tema: Christus regeer in die midde van sy kerk

 

Die voorkoms van Christus

Die plek van die kerk kom in ons dae al meer onder skoot. Baie mense vra wat die kerk se rol in die samelewing is of ander reken dit is nie nodig om aan die kerk te behoort nie. Die Skrif leer ons dat dit in die kerk nie oor ons gaan nie, maar oor Christus as Hoof van die kerk. Hy is. Johannes ontvang die openbaring van die Here oor wat met die kerk en die wêreld sal gebeur in die voleinding. Sentraal in hierdie gebeure staan Christus wat Homself bekendstel as die Hoof van die kerk wat sy regeermag uitvoer.

 

Die posisie van Christus

Christus se regeermag word egter in die midde van sy gemeentes uitgevoer. Hy het Homself nie van sy kerk onttrek sodat ons nou aan onsself oorgelaat is nie, maar beweeg tussen sy gemeentes rond. Die feit dat Christus in die midde van sy kerk is, bring vir die gemeente van Christus heerlike troos, maar ook ʼn besondere verantwoordelikheid. Die troos is dat die kerk nooit alleen is in haar daaglikse stryd nie. Die kerk van Christus word geroep in verantwoordelikheid. Waar daar hartseer en beproewing troos Hy en waar daar sonde is tug Hy en roep tot bekering.

 

Die versekering van Christus

Die troos wat die teenwoordigheid van Christus in die midde van sy kerk bring raak die gemeente, maar ook elke gelowige.  Hy is lewend in die midde van sy kerk, want Hy het die dood oorwin. Mense kom en gaan en gemeentes gaan deur hoogtepunte en laagtepunte maar Christus is lewend besig om in elkeen van ons te werk. Hy rus ons toe, vertroos en versterk ons en bou ons op sodat ons met oorgawe van Hom sal getuig.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aand diens

Sing: Ps. 84:1,2; Ps. 40:4,5; Ps. 116:1,4,10

Lees: Jes. 58; Son 38.

Teks: Jes. 58:13-14; Son 38.

Tema: In die rus wat die Here gee kan sy kerk hom verheerlik deur ʼn ware godsdiens.

 

Jes 58: 1-14

 

1 Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos 'n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.

2 Wel soek hulle My dag vir dag en het 'n behae in die kennis van my weë! Soos 'n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het 'n behae in die toenadering tot God.

3 Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? --Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan.

4 Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.

5 Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die HERE welgevallig is?

6 Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?

7 Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?

8 Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.

9 Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, 10 en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.

11 En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.

12 En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.

13 As jy jou voet terughou van die sabbat--om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie;

14 dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.

 

Heidelbergse Kategismus – Sondag 38

 

VRAAG EN ANTWOORD:103

Vraag: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil ten eerste dat die Woordbediening en die skole in stand gehou word. Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee. Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige Sabbat reeds in hierdie lewe.

 

 

Tema: In die rus wat die Here gee kan sy kerk hom verheerlik deur ʼn ware godsdiens.

 

Die basis van die rusdag.

In die vierde gebod gebied die Here die gelowige optrede van sy volk op die rusdag wat Hy aan hulle gegee het. die oorsprong van die rusdag vind ons in die skepping self. God het nadat Hy alles in ses dae geskape het op die sewende dag gerus. Die bedoeling is dat die mens hom in die werke van die Here op hierdie dag kan verlustig. Hierdie werke is sy skeppingswerk aan die een kant, maar ook sy herskeppings werk soos dit in die verlossing van sy volk sigbaar word. So is die rusdag wat die Here gee, ‘n dag tot sy eer.

 

Die roeping op die rusdag.

Deur die geskiedenis van Israel het hulle die dag van die Here verag en vertrap. Hulle het maar voortgegaan met hulle daaglikse take en nie die werke van die Here in herinnering gebring nie. Hulle het maar net hulle gewone gang gegaan. In ons Kategismus is dit duidelik hoe ons roeping bely word. Die hoofsaak is dat die bediening van die Woord en die skole in stand gehou moet word. In ons huidige leefwêreld word hierdie roeping nie meer hoog geag wanneer mense die rusdag van die Here gebruik vir hulle eie belange, besigheid en ontspanning nie.

 

Die seën in die rusdag.

Die rusdag wat die Here aan sy volk gee bestaan nie net uit die roeping om sy Woord diens in stand te hou en so meer nie. In die onderhouding van die vierde gebod word ‘n heerlike seën aan die volk van God en die kerk van die Here belowe. In die onderhouding van die Sondag as opstandingsdag van Christus kan ons die seën ontvang dat Hy vir ons sondes gesterwe het en die ewige lewe geskenk het. In Hom vind ons die ewige rus voor die aangesig van die Vader. Dit is die ewige rus wat in die wederkoms van ons Here en ons Koning ons volle deel sal wees.

kenner van sy kinders se harte en daarom kan Hy alleen getuig van die waarheid. Die teenkant hiervan is dat Hy ons ook sal straf wanneer die waarheid deur ʼn valse eed in gedrang gebring word.