Preek Sketse - 8 Maart 2026

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

8 Maart 2026

Oggend diens

Sing: Ps. 66:1,2; Ps. 66:7; Ps. 32:1,6; Ps. 1:1,2; Ps.68:1,5.

Lees: Mar. 11:12-26

Teks: Mar. 11:22

Tema: Christus vervloek ‘n vrugtelose geloof en roep ons daarom op tot ‘n vaste geloof.

 

Mar 11: 12-26

 

12 En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;

13 en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.

14 En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor. 

15 En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;

16 en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.

17 En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe:

My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.

18 En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.

19 En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.

20 En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.

21 En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.

22 Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.

23 Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê.

24 Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.

25 En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

26 Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

 

Tema: Christus vervloek ‘n vrugtelose geloof en roep ons daarom op tot ‘n vaste geloof.

 

Christus se soeke na ‘n vrugtevolle geloof

Toe Christus op die rug van ‘n jong esel in Jerusalem ingery kom het was die mense vervul met blydskap oor die Messias in hulle midde. Hulle het egter nie besef dat Jesus die vrug van geloof by die volk sou soek nie. Christus het die vyeboom langs die pad gesien en het nader gegaan met die hoop dat daar vrug sou wees. Die vyeboom is teken van die volk se diens aan die Here. Christus soek geloofsvrug, maar dit was nie by die volk te vinde nie. As gelowiges moet ons weet dat Christus ook geloofsvrug by ons soek

 

Christus se vervloeking van ‘n vrugtelose geloof.

Wanneer Christus by die vyeboom kom en hy sien dat daar geen vrug is nie, vervloek hy die boom en dit het dadelik verdroog. Die oordeel van die Here kom oor die volk wanneer hulle nie vrug dra nie. Elders in die Bybel word die dissipels gewaarsku dat die Here die lote van die wynstok wat nie vrug dra nie sal uitkap en verbrand. Die vrugteloosheid van die volk het sigbaar geword in hulle tempeldiens en die vervloeking van Christus in die feit dat die tempel afgebreek en verwoes sal word. Dit is in hulle vrugteloosheid dat hulle nie die Messias herken het wat in hulle midde is nie.

 

Christus se opwekking tot ‘n vaste geloof.

Die waarskuwing van die vrugtelose geloof dien vir die dissipels as ‘n opwekking dat hulle in die geloof moet volhard en vrug moet dra. Die vrug van hulle geloof word sigbaar in die gebede wat hulle tot die Vader bid en die naasteliefde wat hulle tot mekaar uitleef. Wanneer die kind van die Here met ‘n vaste geloof bid sal die Vader die vrug daarop gee. die naaste liefde word uitgeleef in die mate waarin die gelowiges mekaar se oortredinge vergewe.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aand diens

Sing: Ps. 95:1,2; Ps. 78:1,3,4; Ps. 34:6,7.

Lees: Deut. 21:18-21; Son 39.

Teks: Son 39

Tema: Ons is verplig tot onderwerping aan die gesag wat God oor ons stel.

 

Deut 21: 18-21

 

18 As iemand 'n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie,

19 dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek,

20 en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is 'n deurbringer en dronkaard.

21 Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.

 

Heidelbergse Kategismus – Sondag 39

 

VRAAG EN ANTWOORD: 104

Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.

 

Tema: Ons is verplig tot onderwerping aan die gesag wat God oor ons stel.

 

Die grondslag van onderwerping.

Die eerste gebod van die tweede tafel handel oor die onderwerping aan die gesag wat God in die samelewing gestel het. Die gesagsdraer moet die regering van God aan sy onderdane sigbaar maak. Wanneer die verbond van God weer aan Israel vernuwe word voordat hulle die beloofde land intrek word die gesag van die ouers weer sterk beklemtoon. Wanneer ʼn seun opstandig is en nie na sy ouers wil luister nie, moet hy gestenig word. Die regering van God wat deur die ouers bedien word, word op hierdie manier ten sterkste in die samelewing van Israel bevestig.

 

Die roeping tot onderwerping

In die Kategismus word die roeping tot die eer liefde en trou wat kinders aan hulle ouers, maar ook onderdane aan gesagsdraers verskuldig is beklemtoon. Die gesag wat uitgevoer word moet in ooreenstemming met die wil van die Here wees en dit moet met liefde aan die kinders en onderdane bedien word. Op hierdie manier word die gesag van God nie net erken nie, maar sy naam word ook daarin verheerlik. Sonder heelhartige onderwerping aan die gesag wat God oor ons gestel het kan daar nie werklike gehoorsaamheid aan God wees nie,

 

Die seëninge uit onderwerping

Alhoewel die Kategismus nie na die gevolge van die onderwerping of die verset teen die gesag van God verwys nie word dit tog duidelik in die gebod verwoord. Die kind wat hom aan sy ouers onderwerp sal die seëninge van ‘’n lang lewe in die beloofde land ontvang. Die teendeel hiervan is net so geweldig. Die een wat hom teen die gesag van God verset sal die dood sien. Christus het homself geheel aan die gesag van die Vader onderwerp sodat ons nou die seëninge van hierdie gebod kan ontvang.