Preek Sketse - 20 April 2025
Oggend Diens Sing: Ps. 75:1,4; Ps. 89:6; Ps. 118:3,6; Skr. 10:1,2; Ps. 33:1,5. Lees: Luk. 24:1-12 Teks: Luk. 24:6 Tema: Christus het uit die dood opstaan want hy is die Lewende, daarom moet ons daarvan getuig. Die voorbereiding deur die vroue
Luk 24:1-12 1 En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was. 2 En hulle het die steen van die graf afgerol gevind. 3 En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4 En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere. 5 En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6 Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was: 7 Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan. 8 En hulle het sy woorde onthou. 9 Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander. 10 En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het. 11 En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie. 12 Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.
Tema: Christus het uit die dood opstaan want hy is die Lewende, daarom moet ons daarvan getuig. Die voorbereiding deur die vroue Op die Sondag na die kruisiging het die groepie vroue wat by die kruis van Christus was na sy graf gegaan om sy liggaam te balsem. Met hierdie optrede wil hulle graag op hulle eie manier ‘n laaste hulde aan hulle Koning en Messias bring. Dit is wonderlik dat hulle aan hom hulde wil bring, maar hulle het vergeet dat Hy gesê het dat Hy sal opstaan. Om Christus as koning te erken moet hulle Hom nie net onthou in dit wat verby is nie, maar hulle moet Hom sien en erken as die Lewende. Die openbaring van die engele Wanneer die vroue by die graf kom sien hulle egter dat Hy nie meer in die graf is nie. Hy het opgestaan. Die doeke is steeds daar en die doek wat om sy hoof gebind was is eenkant opgevou, dus is sy liggaam nie gesteel nie. In al die weergawes van Jesus se opstanding word melding gemaak van die engele wat by die graf was. Hulle bring die hemelse openbaring dat Jesus nie meer by die dooies is nie maar dat Hy lewe. Hy het op gestaan en die dood oorwin. Dit is die bevestiging van Christus se eie woorde, naamlik die wonderlike evangelie. Die getuienis aan die apostels Hierdie boodskap wat die vroue van die engele ontvang het bly nie net by hulle nie, hulle gaan en vertel dit aan die oorblywende elf dissipels. Aanvanklik wil die dissipels dit nie glo nie, maar tog het Petrus en Johannes gegaan om te kyk. Hulle ongeloof het uiteindelik plek gemaak vir verwondering want hulle het self ook die geopenbaarde woorde van Jesus onthou. Die feit dat ons vandag en elke Sondag hierdie heerlike gebeurtenis kan vier moet ons ook daarom met geloof en verwondering vervul. |