Preek Sketse - 20 Julie 2025

 

Oggend Diens—Ds C Jooste

Sing: Ps. 104: 1,2; Ps. 104:19,20; Ps. 86:1,6; Ps. 18:1,20; Ps. 33:5,6.

Lees: 2 Pet. 1:1-11

Teks: 2 Pet. 1:10.

Tema: Ons moet ons inspan om op grond van Christus se gawes ons roeping en verkiesing vas te maak.

 

2 Pet 1: 1-11

 

1  Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië, 

2  uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! 

3  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, 

4  sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 

5  wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. 

6  Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 

7  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 

8  vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 

9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry. 

10  Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, 

11  en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. 

 

Tema: Ons moet ons inspan om op grond van Christus se gawes ons roeping en verkiesing vas te maak.

 

Die fondament van ons roeping en verkiesing.

In sy tweede brief aan gelowiges wat in moeilike omstandighede leef skryf Petrus om hulle te waarsku oor die valse leraars en hulle te bemoedig oor die wederkoms. Hy fokus egter eers op hulle roeping in hulle daaglikse bestaan. Die gelowiges moet hulle inspan om hulle roeping en hulle verkiesing vas te maak. Die fondament van hulle roeping en verkiesing is die genadegawes wat Christus aan sy kinders gegee het, naamlik die lewe en egte godsvrug. Die gelowiges kan sekerheid in hulle roeping in hierdie lewe hê, juis omdat Christus hierdie groot genade aan ons geskenk het.

 

Die verpligting van ons roeping en verkiesing.

Op grond van die fondament van Christus se genade gawes moet die gelowiges nou hulle roeping en verkiesing vasmaak, of anders gestel, bevestig. Hierdie verpligting begin by die geloofsvolharding wat in die gelowige sigbaar word. Met ‘n woordketting word die werke van die geloof uitgebrei sodat die kinders van die Here hulle optrede in die geloof kan rig. Die geloof moet deug gevoeg word en by die deug die kennis. By die kennis die selfbeheersing en by die selfbeheersing die lydsaamheid. By lydsaamheid kom die godsvrug en by die godsvug die broederliefde en by die broederliefde die naaste liefde. So mond die geloof uiteindelik uit in die liefde.

 

Die sekerheid van ons roeping en verkiesing.

Op die basis van Christus se versoeningswerk en die verpligting wat nou op die gelowiges rus, kan hulle eindelik sekerheid in hul roeping en verkiesing hê. Deur die sekerheid van die geloof en die werk van Christus ontvang die kinders van die Here toegang tot die koninkryk van God, terwyl dit hulle ook bewaar van struikeling in hierdie lewe. By die kerk van die Here mag daar dus nie onsekerheid wees oor  die dinge wat ons vandag beleef of oor die heerlike toekoms by Christus waarna ons uitsien nie.