Preek Sketse - 23 Februarie 2025

 

Oggend Diens

 

Sing: Ps. 145:1,2,3; Ps. 145:12; Ps. 42:1,2; Ps. 78:13,25; Ps. 2:1,6.

Lees: Hag. 2:11-23.

Teks: Hag. 2:19

Tema: Die Here gebied sy seën waar sy kerk gehoorsaam in sy koninkryk bou

 

HAGGAI 2:11-23

 

11So sê die Here van die leërskare: Vra tog aan die priesters inligting uit die wet en sê:

12As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee.

13Daarop sê Haggai: As iemand wat deur 'n lyk verontreinig is, aan al hierdie dinge sou raak, sal dit onrein wees? En die priesters het geantwoord en gesê: Dit sal onrein wees.

14Toe antwoord Haggai en sê: Só is in my oë hierdie volk en só hierdie nasie, spreek die Here, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer — onrein is dit.

15Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen gelê het in die tempel van die Here,

16in dié tyd het iemand gekom by 'n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig.

17Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael — al die werk van julle hande — nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die Here.

18Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die Here gelê het; merk op:

19Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën.

20Vir die tweede maal het die woord van die Here tot Haggai gekom op die vier-en-twintigste van die maand en gesê:

21Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe.

22En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.

23In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die Here, en jou maak tot 'n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die Here van die leërskare.

 

Tema: Die Here gebied sy seën waar sy kerk gehoorsaam in sy koninkryk bou

 

Moeilike omstandighede

In die tyd dat Israel gereed maak om die wintergraan te saai moet Haggai vir ʼnderde maal die boodskap van die Here aan die volk bring. Die land se opbrengs was in die verlede onder die gemiddeld en die Here het hulle op baie verskillende maniere beproef om hulle terug te roep tot bekering. Hulle het geval in afgode diens en dooie vormgodsdiens, maar die Here het hulle herhaaldelik opgeroep om terug te keer tot ware diens aan Hom alleen.

 

Ons roeping tot gehoorsaamheid

Die Here het sy Gees in hulle midde gegee sodat hulle hom met ʼnnuwe gehoorsaamheid sal dien. Hulle het op die draaipunt van hulle geskiedenis gestaan, maar uit dankbaarheid moet hulle opnuut gehoorsaam in die bouwerk van die Here volhard. Dit is op hierdie gehoorsaamheid wat die Here nou sy seën laat rus. Deur die geestelike versterking in die nagmaal word ons opnuut geroep tot gehoorsaamheid omdat ons die seën van die Here in die offer van Christus ontvang het.

 

Ons ontvang die Here se seën

Van die dag dat Israel begin het om die fondament van die tempel te lê het die Here sy seën oor hulle gebied. Waar die Here sy hand vir die volk toegehou het tot hulle beproewing, gee Hy nou oorvloed. ʼnOorvloed wat nie net beperk is tot fisiese seëninge nie, maar ook tot geestelike seën. Die seën dat die dag van die Here sal aanbreek en dat Hy alle vyande aan Hom sal onderwerp. Dit laat die gemeente van Christus uitsien na sy koms.

 

—————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————————

Aand Diens

 

Sing: Ps. 84:1,2,6; Ps. 25:1,9,10; Skr. 33:3; Ps. 48:3,4.

Lees: 1 Kor. 2:1-16; Son 6.

Teks: 1 Kor. 2:2; Son 6.

Tema: Jesus Christus is ons Middelaar soos Hy in die Skrif geopenbaar word.

 

I KORINTHIËRS 2:1-16

 

Die aard van Paulus se prediking in Korinthe.

1EN toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie,

2want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

3Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;

4en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag,

5sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.

6Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie.

7Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,

8 wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie — want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie —

9maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.

10Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.

11Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.

12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.

13Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

14Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

15Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

 

Sondag 6

 

Vraa16: Waarom moet hy ’n ware en regverdige mens wees?

Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).

(a) Eseg 18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb 2:26, 27; Ps 49:8; 1 Pet 3:18.

Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?

Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).

(a) Jes 9:5; 63:3. (b) Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11. (d) Jes 53:5, 11.

Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?

Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).

(a) 1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1. (b) Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Heb 2:14, 16, 17; 4:15. (c) Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Heb 4:15; 7:26; 1 Pet 1:19; 2:22, 3:18. (d) 1 Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Heb 2:9..(e) 1 Kor 30.

Vraag 19: Waaruit weet jy dit?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).

(a) Gen 3:15. (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41; Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Heb 1:1. (d) Heb 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46. (e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.

 

Tema: Jesus Christus is ons Middelaar soos Hy in die Skrif geopenbaar word.

 

Die natuur van ons Middelaar

Ons kan alleen Verlossing ontvang wanneer daar aan die geregtigheid van God voldoen word. Die Middelaar wat tot hierdie geregtigheid in staat moet waarlik mens wees en ware God. Na sy mensheid moet Hy met ʼnvolmaakte gehoorsaamheid aan die geregtigheid van God voldoen want dit is wat die Here van die mens eis. Hy moet daarom verder ook ware God wees omdat geen mens of skepsel die volle vrag van God se regverdige oordeel kan dra nie. Hierdie Middelaar word uit genade deur die Vader aan ons gegee.

 

Die persoon van ons Middelaar.

Die besondere natuur van ons Middelaar in sy mensheid en sy Goddelikheid vind ons alleen in Jesus Christus die eniggebore Seun van God. Wanneer Paulus homself aan die Korintiërs moet verantwoord oor sy bedieningswerk staan die verkondiging van Christus voorop. Vir die wêreld is dit ʼndwaasheid en sy verkondiging het nie die oorredende krag van menslike wysheid gehad nie, maar tog het hy niks anders verkondig nie. Die openbaring van Christus as Middelaar wat alleen aan die geregtigheid van God kan voldoen is die wysheid wat van God af kom.

 

Die openbaring van ons Middelaar.

Die kennis van Jesus as Verlosser kom egter nie uit die mens self op nie, maar uit die openbaring van die evangelie. Nou is dit opmerklik dat ons belydenis die tyd van hierdie openbaring aanwys as die paradys. Die bedoeling is dat God deur alle eeue juis van die val van die eerste mens Adam en Eva die belofte van Christus gegee het. deur die eeue is dit verborge maar in die volheid van die tyd ten volle openbaar deur die Woord.