Preek Sketse - 27 April 2025
Oggend Diens
Sing: Ps. 149:1,3; Ps.149:2; Ps. 130:1,2; Ps. 147:1,2,4; Skr 8:1,2. Lees: Fil. 2:1-11 Teks: Fil. 2:5 Tema: Ons word geroep om met die nederige gesindheid van Christus in die gemeente diensbaar te wees.
Fil 2:1-11
1 As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. 3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. 5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; 8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. 9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
Tema: Ons word geroep om met die nederige gesindheid van Christus in die gemeente diensbaar te wees.
Die aansporing tot ʼn nederige gesindheid
Paulus skryf aan die gemeente in Filippi terwyl hy onder die realiteit van vervolging lei. Hy is in die gevangenis gewerp ter wille van die evangelie. In hierdie tyd spoor hy die gemeente van Christus aan om eensgesind in die geloof te volhard en saam vir die evangelie te stry. Die eenheid van die gemeente kan alleen sigbaar word as hulle ʼn gesindheid van nederige diensbaarheid sigbaar maak
Die voorbeeld van ʼn nederige gesindheid
ʼn Nederige gesindheid is egter nie iets wat natuurlik in die sondige mense se geaardheid is nie. Die gesindheid van Christus moet in die gemeente sigbaar word. Hierdie gesindheid word gesien in die feit dat Christus die heerlikheid van sy Godheid afgelê het en die gestalte van ʼn mens aangeneem het. Die dieptepunt van hierdie voorbeeld is die feit dat Hy tot aan die kruis verneder is.
Die verhoging uit ʼn nederige gesindheid
Die nederige gesindheid waartoe ons geroep word het egter nie ten doel om ons moedeloos te maak nie. Soos wat Christus verneder is, is hy ook verhoog tot aan die regterhand van die Vader. Op grond van sy verhoging het ons ook die troos dat ons eindelik verhoog sal word. Die wat laaste is, sal eerste wees. Hierdie verhoging dien tot verheerliking van ons Vader. |