Preek Sketse - 27 Julie 2025

 

Oggend Diens—Ds C Jooste

Sing: Ps. 45:1,2,3; Ps. 45:16; Ps. 130:1,4; Ps. 27:1,4; Ps. 119:54.55.

Lees: Jud. 1:1-16

Teks: Jud. 1:4

Tema: Valse leraars ontken die koningskap van Christus en wil die gemeente tot losbandigheid verlei.

 

Jud 1: 1-16

 

1  Judas, ‘n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is: 

2  Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word! 

3  Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. 

4  Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën. 

5  Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het. 

6  En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; 

7  soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan. 

8  Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. 

9  Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! 

10  Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde. 

11  Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom. 

12  Hulle is skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld; 

13  woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. 

14  En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, 

15  om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het. 

16  Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel. 

 

 

Tema: Valse leraars ontken die koningskap van Christus en wil die gemeente tot losbandigheid verlei.

 

Die opstand teen Christus se heerskappy

Judas skryf aan gelowiges om hulle te bemoedig in die ware leer van Christus. Daar het egter dwaalleraars in die gemeente ingekom wat gepoog het om die gemeente te mislei. Hulle eerste aanslag was om die heerskappy en koningskap van Christus te ontken. Die gelowige kinders van die Here moet die goeie stryd teen hierdie Godloënaars stry.

 

Die verleiding van Christus se gemeente

Die tweede aanslag wat hierdie dwaalleraars in die gemeente doen is om die mense te verlei tot ongebondenheid. Hulle word dus losgemaak van die heilige lewe waartoe Christus hulle geroep het met die boodskap dat hulle maar die sonde kan doen. hulle wil die gelowiges verlei dat hulle soos Sodom en Gomorra sal wees. Hulle word deur hulle eie luste en drange voortgedrywe.

 

Die oordeel in Christus se geregtigheid

Tog is en bly Christus die Koning van sy kerk en daarom sal Hy sy kerk bewaar van hierdie aanslag. Die gelowiges kan teen hierdie aanslae stry in die wete dat Hy sy oordeel sal voltrek. God het Sodom en Gomorra veroordeel. Selfs die aartsengel Migael het die Satan vermaan met die woorde dat die Here hom sal bestraf. In God se liefde vir sy gemeente sal Hy aanslae op sy gemeente onder die oordeel bring.

 

Aand Diens—Ds C Jooste

 

 

Sing: Ps. 100:1-4; Ps. 16:4,5; Ps. 89:17,18.

Lees: Psalm 49; Son 16

Teks: Son 16.

Tema: Ons ontvang die troos en hoop op lewe in die dood van Christus

Psalm 49: 1-21

 

1  Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. 

2  Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld, 

3  geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm! 

4  My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand. 

5  Ek sal my oor neig tot ‘n spreuk; ek sal my raaisel verklaar by die siter. 

6  Waarom sou ek vrees in dae van onheil, as die ongeregtigheid van my onderkruipers my omring— 

7  die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom? 

8  Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie 

9  (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), 

10  dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie. 

11  Want hy sien: wyse manne sterwe, die dwaas en die onverstandige kom tesame om en laat hulle vermoë aan ander na. 

12  Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name. 

13  Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan. 

14  Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde ‘n behae het. Sela. 

15  Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie. 

16  Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela. 

17  Wees nie bevrees as ‘n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie; 

18  want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie. 

19  Al ag hy homself gelukkig in sy lewe—en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen— 

20  tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie. 

21  Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan. 

 

Sondag 16

 

Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

(a) Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.

Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).

(a) Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53; Joh 19:38.

Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie ’n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs ’n afsterwe van die sondes en ’n deurgang tot die ewige lewe (b).

(a) Mark 8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.

Vraag 43: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as ’n dankoffer aan Hom toewy (c)

(a) Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.

Vraag 44: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?

Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.

(a) Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt 26:38; 27:46; Heb 5:7

 

 

Tema: Ons ontvang die troos en hoop op lewe in die dood van Christus

 

Die feit van Christus se dood

Ons word dikwels in ons lewe met die werklikheid van die dood gekonfronteer. Tog kan elke gelowige wonderbaarlike troos in die midde van hierdie hartseer ontvang in die feit en belydenis van Christus se dood. In Psalm 49 word die geweldigheid van die dood besing. Christus het egter die liggaamlike dood en die geestelike dood deur gegaan om ons daarvan te verlos. Hierdie feit word vir ons in die Evangelies aangeteken, maar ook beklemtoon deur die vertelling van sy begrafnis. Hy het die dood tot in die graf deurgegaan.

 

Die nut van Christus se dood

Die feit van Christus se dood is nie maar net iets waarvan ons kennis neem nie, maar dit het ook ʼn bepaalde nut vir elke gelowige van vandag. Die psalmdigter besing die hoop dat God sy siel van die dood sal loskoop. In die dood van Christus realiseer hierdie hoop vir die gelowige. In die midde van die realiteit van die liggaamlike dood waaraan ons nog in hierdie bedeling onderworpe is kan ons nou getroos wees dat ons dood nie meer ʼn betaling van ons sonde is nie maar ʼn deurgang na die lewe, want in Christus is ons van die dood losgekoop.

 

Die vernedering van Christus se dood.

Te midde van die geweldige feit en die wonderbaarlike nut van Christus se sterwe moet ons nog verder gaan en diepte vernedering hiervan verstaan. Ons bely dit in die woorde dat Hy na die hel neergedaal het. Die bedoeling van die neerdaling is nie dat hy eers na sy begrafnis na die hel gegaan het nie, maar dat Hy reeds deur sy lewe en veral aan die kruis helse smart gelei het. Hy is deur sy Vader verlaat en dit is die diepe vernedering waarvan ons verlos is.