Preek Sketse - 30 Maart 2025
Oggend Diens
Sing: Ps. 105:1,2; Ps. 105:3; Ps. 38:1,2,13; Ps. 36:1,3; Skr. 10:1,3,5,6. Lees: Matt 13:24-30, 36-43 Teks: Matt. 13:40 Tema: Ons groei in die midde van bose aanslag, terwyl ons wag op Christus se oordeel.
Mat 13:24-30 & 36-43
24 ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; 25 maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. 26 En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. 27 En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? 28 En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? 29 Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. 30 Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
36 Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. 37 En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, 38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, 39 en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. 40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: 41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, 42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
Tema: Ons groei in die midde van bose aanslag, terwyl ons wag op Christus se oordeel.
Die aanslag van die bose
Die tweede gelykenis wat Christus oor die koninkryk vertel bou voort op die tema van saad wat gesaai word. in hierdie gelykenis is die saad die wat oor die wêreld versprei is terwyl die kinders van die Bose as die onkruid ook die wêreld oor gesaai word. Die skerp punt van die gelykenis is dat wanneer die onkruid ontkiem het en dit besig is om te groei dat dit net soos die koring plante lyk. Die bose wat dit saai is die vyand van God en sy kinders en wil eindelik sy koninkryk vernietig
Die groei van die gelowiges
Te midde van die feit dat die goeie saad en die onkruid in dieselfde land gesaai is, gee die eienaar die opdrag dat die onkruid nie uitgetrek moet word nie. Die rede is nie dat die onkruid maar net verdra moet word nie, maar die moontlikheid bestaan dat die koring daarmee saam uitgetrek kan word omdat dit nog moeilik is om te onderskei tussen die koring plantjies en onkruid. Dit is eers wanneer hulle vrug dra en gereed is vir die oes wat die onderskeid gemaak kan word.
Die oordeel van Christus
Wanneer oestyd aan breek sal die maaiers in die land ingaan en eers die onkruid uitrek, bymekaar maak en vernietig. Dit wys op die komende oordeel wat Christus oor die wêreld sal bring met sy wederkoms. Die engele sal uitgaan en die bose bymekaar bring waarin hulle die regverdige oordeel van Christus sal ontvang. Verder sal die engele ook die oes insamel, naamlik die regverdiges, die kinders van die Here, wat sal skyn soos die son. So sal die regverdiges in die heerlikheid van die Here ewig leef. |