Preek Sketse - 31 Augustus 2025

 

Oggend diens—Dr C Jooste

Sing: Ps. 68:1,2; Ps. 68:12; Ps. 65:2,3; Skr. 34:1,3; Ps. 31:1,4,5

Lees: Rigters 13

Teks: Rigters 13:5

Tema: God voer in genade sy verlossingsplan uit ondanks ons menslike nietigheid

 

 

Rigters 13

 

 

Israel oorgelewer aan die Filistyne. Geboorte van Simson.

1EN toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die Here, het die Here hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank.

2En daar was 'n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie.

3Maar die Engel van die Here het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en 'n seun baar.

4Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie.

5Want kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof kom nie; want die seun sal van die moederskoot af 'n nasireër van God wees, en hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne.

6Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: 'n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy my nie meegedeel nie.

7Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar; drink dan nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seun sal 'n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood toe.

8En Manóag het tot die Here gebid en gesê: Ag, Here, laat tog die man van God wat U gestuur het, nog 'n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word.

9En God het geluister na die stem van Manóag, sodat die Engel van God nog 'n keer na die vrou gekom het terwyl sy in die veld sit en haar man Manóag nie by haar was nie.

10En die vrou het haastig geloop en haar man dit vertel en vir hom gesê: Kyk, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my gekom het.

11Toe staan Manóag op en loop agter sy vrou aan, en hy kom by die man en vra hom: Is U die man wat met dié vrou gespreek het? Toe sê Hy: Ja.

12Daarop vra Manóag: As u woorde nou uitkom, wat moet die leefwyse en die werk van die seun wees?

13Toe sê die Engel van die Here aan Manóag: Vir alles wat Ek aan die vrou gesê het, moet sy haar in ag neem.

14Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie; en geen wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou.

15Manóag sê aan die Engel van die Here: Laat ons U tog ophou, dat ons 'n bokkie vir U kan berei.

16En die Engel van die Here antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van jou brood eet nie; maar as jy 'n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die Here. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die Here was nie.

17Daarop vra Manóag die Engel van die Here: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom?

18En die Engel van die Here sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?

19Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die Here terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou:

20 toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die Here in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.

21En die Engel van die Here het verder nie meer aan Manóag en sy vrou verskyn nie. Daarop bemerk Manóag dat dit die Engel van die Here was.

22En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het.

23Maar sy vrou sê vir hom: As die Here ons wou laat sterwe, sou Hy nie uit ons hand 'n brandoffer en 'n spysoffer aangeneem en ons al hierdie dinge laat sien en ons nou sulke dinge laat hoor het nie.

24En die vrou het 'n seun gebaar en hom Simson genoem; en die kind het groot geword, en die Here het hom geseën.

25 En die Gees van die Here het hom begin drywe in die laer van Dan tussen Sórea en Estáol.

 

Tema: God voer in genade sy verlossingsplan uit ondanks ons menslike nietigheid

 

Die genade wat die Here openbaar.

Die geskiedenis van Simson is vir ons almal baie bekend. Die volk het voortdurend in afgodery verval en nou het die Here hulle in die hande van die Filistyne oorgegee. Tog gee die Here op sy tyd weer genade aan die volk deur die geboorte van Simson. Hy openbaar sy genade deur ʼn onvrugbare vrou wat haar kindjie sy lewe lank aan die Here sal wy. Die Here het deur die geskiedenis van Israel nietige mense gebruik om sy verlossingsplan te laat realiseer. Jesus Christus het self die nietigheid van die mens aangeneem om terwille van ons verlossing. So sien ons die groot genade van God

 

Die opdrag waartoe die Here roep.

Te midde van die genade wat Hy aan Manoag en sy vrou openbaar word die opdrag oor die opvoeding van hierdie kind baie sterk gestel. Hy mag geen sterk drank gebruik nie, nie sy hare afskeer nie, of onrein kos eet nie. Dit simboliseer dat hierdie seun se hele lewe aan God gewy is en totaal aan Hom oorgegee is. Deur die verdienste van Christus en die gawe van die Heilige Gees kan ons nou totaal en met nuwe oorgawe aan die Here leef. Ons opdrag beteken nie dat ons self tot God moet nader nie, maar omdat Hy tot ons genader het moet ons nou totaal aan Hom oorgegee lewe

 

Die ontsag wat die Here wek.

Wanneer Manoag en sy vrou die opdragte van die Engel van die Here ontvang het laat dit hulle vol verwondering en ontsag. Manoag wil die naam van die engel weet en wil aan Hom ʼn offer bring maar die offer kom die Here alleen toe. Hulle vrees selfs dat hulle sal sterf omdat hulle die Here gesien het. Wanneer ons die groot verlossings werke van God se genade sien moet dit ons ook met ontsag vervul. Ons is ook die volk wat teen die Here oortree maar Hy het sy liefde aan ons openbaar. In verwondering kan ons voor die Here buig en sy naam verheerlik.

 

 

 

Aand Diens—Ds C Jooste

 

 

 

Sing: Ps. 145:1,2,3; Ps. 48:1,4; Ps. 32:1,6.

Lees: Ef. 1:3-23; Son 21.

Teks: Son 21.

Tema: Christus voeg sy uitverkore kinders in die gemeenskap van die heiliges saam.

 

EFÉSIËRS. 1:3-23

 

Die seëninge van God in Jesus Christus, Bewerker van ons verlossing en Hoof van die gemeente.

3 GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,

4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,

5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,

6tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.

7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,

8wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,

9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,

10om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig —

11in Hom in wie ons ook 'n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

12sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,

13in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

14wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

15Daarom — vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges —

16 hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie,

17dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,

18verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;

19en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte

20wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,

21 bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.

22En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee,

23 wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

 

Sondag 21

Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly.

Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie.

 

Tema: Christus voeg sy uitverkore kinders in die gemeenskap van die heiliges saam.

 

Christus vergader sy kerk

Die kerk bly in ons dae die fokus van baie gesprekke. Daar word bespiegel en gepraat oor wat die rol van die kerk in die wêreld moet wees. Hoe die kerk relevant moet bly en nie al hoe kleiner word nie. Tog verstaan baie mense nie wat die kerk is nie. Dit wat ons kerk noem neem sy vertrekpunt in die uitverkiesende werk van Christus Jesus.  Christus vergader sy kerk deur die uitverkorenes by mekaar te bring en in sy liggaam saam te voeg.  Waar die waarheid van die Woord bedien word is Christus besig om sy kerk te vergader en te bou

 

Die uitverkorenes leef in sy kerk.

Die kerk is wel die vergadering van uitverkorenes en Christus bou sy kerk op, maar dit is hierdie uitverkorenes wat in die kerk as ‘n gemeenskap van gelowiges moet leef. Die gemeenskap van gelowiges leef as die liggaam van Christus, die Hoof. In alles word die gesag van Christus as Hoof erken en leef die kerk in volle afhanklikheid van Hom. Verder gee Hy die gemeente as liggaam aan mekaar waar ons mekaar met die gawes van die Gees kan bedien. Die hele liggaam het deel aan die gawe van Christus en daarom het ons deel aan die gawes wat Hy gegee het. So is ons onderling aan mekaar gebonde.

 

Die uitverkorenes ontvang vergifnis.

Met die eerste lees wil dit voorkom of die artikel oor die vergewing van sondes ‘n volgende artikel is. die verband is egter duidelik in die Sondag 21. Die vergewing van sondes wat elke kind van die Here ontvang het, is die gawe wat Hy aan al sy uitverkorenes gegee het. Die gemeenskap van die heiliges is die ook die gemeenskap van vergeefdes. Dit is deur die vergewing van sondes wat ons weer in herstelde gemeenskap met God ons vader kan leef.