Preek Sketse - 7 Desember 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

7 Desember 2025

Sing: Ps. 48:1,4; Ps. 48:5 Ps. 65:2,3; Ps. 33:1,8; Ps. 118:3,7.

Lees: Num 13:1-3,23-14:10.

Teks: Num 14:6-9

Tema: Ons kan altyd op die Here vertrou want Hy is met ons.

 

Num 13: 1-3, 23—Num 14: 10

 

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.”

3. Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete.

 

23Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye.

24. As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem.

25. Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.

 

26. Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys.

27. Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.

28. Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.

29. Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”

30. Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”

31. Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

32. Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot.

33. Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

 

1. Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla.

2. Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!

3. Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”

4. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!”

5. Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval.

6. Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur,

7. en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land.

8. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

9. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

10. Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.

Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword.

 

Tema: Ons kan altyd op die Here vertrou want Hy is met ons.

 

Die gevare rondom ons

Israel het na bietjie meer as twee jaar se trek uit Egipte  op die grens van die land Kanaän aangekom. Die Here gee opdrag dat hulle eers verspieders moet uitstuur om die land te verken. Tien van die verspieders beveel aan dat die risiko om die land in te neem te groot is en dat dit nie moontlik is nie. Dit is tekenend daarvan dat hulle nie op die Here vertrou het dat Hy sy beloftes sal realiseer nie. Ons word ook dikwels oorweldig deur die risiko’s waarmee die Here ons toets.

 

Die beloftes aan ons

Twee van die verspieders het egter nie met hulle saamgestem nie. Josua en Kaleb bemoedig die volk dat hulle nie moet vrees nie want die beloftes van die Here hou stand en hulle kan op Hom vertrou. Die beloftes spruit uit die welbehae van die Here. Hulle is sy volk en Hy het die verbond met hulle gesluit. Deur die geslagte heen het die Here altyd sy beloftes gestand gedoen. Dit het gerealiseer in die Jesus Christus wat gekom het en die volheid van die lewe vir ons ontsluit het.

 

Die vertroue in ons

Omdat die Here getrou is kan ons op Hom vertrou. In die oproep wat Josua en Kaleb aan die volk rig maak hulle duidelik dat kleingelowigheid in wese opstandigheid teen die Here is. Die opstandigheid vervul hulle met vrees vir die volk van die land. Hulle kan vertrou en weet dat die Here met hulle is dat Hy voor hulle sal uittrek. Wanneer ons met die uitdagings van hierdie lewe gekonfronteer word mag ons nie teen die here verset nie, en kan ons in die geloof vasgryp aan die wete dat Hy met ons is.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Sing: Ps. 1:1,2; Ps. 119:8,9; Ps. 146:1,3,8.

Lees: Jak 2:17-26; Son 32

Teks: Jak 2:26; Son 32

Tema: Christus het ons vernuwe om goeie werke uit dankbaarheid tot versterking van ons geloof en as lewende getuies te doen

 

Jak 2: 17-26

 

17. So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

18. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.

19. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.

20. Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is?

21. Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie?

22. Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.

23. So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem.

24. Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.

25. Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met 'n ander pad laat ontkom het nie?

26. 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood

 

Son 32

 

Sondag 32

Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).

(a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17; Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.
Vraag 87: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).

(a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6; 1 Joh 3:14.

 

 

Tema: Christus het ons vernuwe om goeie werke uit dankbaarheid tot versterking van ons geloof en as lewende getuies te doen

 

Goeie werke en ons dankbaarheid

Sommige mense dink dat die derde deel oor ons verantwoordelikheid vir die verlossing wat ons ontvang het handel. Die Kategismus maak dit egter duidelik dat ons dankbaarheid ook sy oorsprong by Christus het. Hy het nie net deur sy bloed gekoop nie, maar hy het ons ook vernuwe om dankbaarheid vir ons verlossing te betoon. In ons sonde is ons ook ondankbaar, daarom moet Hy ons eers nuut maak. Hierdie dankbaarheid word betoon wanneer ons goeie werke doen. met ons dankbaarheid kom ons voor God te staan

 

Goeie werke en ons sekerheid

Ons kom egter ook voor onsself te staan wanneer ons die goeie doen. Die apostel Jakobus skryf aan die gelowiges in die algemeen dat die belydenis van die geloof sigbaar moet word in die goeie werke wat ons doen. Goeie werke is die vrug wat in die lewe van die gelowiges sigbaar word. So sal die gelowige sekerheid in die geloof kry wanneer die vrug van goeie werke in sy eie lewe sigbaar word. Deur  die vrug van ons goeie werke wek die Gees geloofsekerheid in harte.

 

Goeie werke en ons getuienis

Die gelowige kom ook nie net persoonlik voor homself te staan met sy goeie werke nie, maar hy staan ook in die midde van ʼn samelewing. Wanneer ons die liefde van Christus sigbaar maak in die uitlewing van ons naaste liefde sal ons dade dit wat ons bely bevestig. In ons daaglikse optrede moet ons nie poog om aan die wêreld gelykvormig te word nie, maar deur die goeie te doen moet ons juis anders as de res van die wêreld wees. Op hierdie manier is ons lewende getuies van die liefde wat Christus aan ons betoon het.