Preek Sketse - 16 November 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

16 November 2025

Oggend diens

Sing: Ps. 84:1,2; Ps. 84:6; Ps. 130:1,2; Ps. 66:1,6; Ps. 23:3; Ps. 116; Ps. 118:14

Lees: 1 Kor. 10:14-22

Teks: 1 Kor. 10:16-17

Tema: Ons word deur die Nagmaal herinner en  versterk deurdat ons aan Christus behoort.

 

1Kor10:14-22

14DAAROM, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.

15Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:

16 die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?

17Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.

18 Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?

19Wat sê ek dan? Dat 'n afgod iets is, of dat 'n afgodsoffer iets is?

20Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.

21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.

22Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?

 

Tema: Ons word deur die Nagmaal herinner en  versterk deurdat ons aan Christus behoort.

Ons gemeenskap met Christus

Van al die dinge waarmee die Korintiërs met Paulus geworstel het was daar die een saak wat die eenheid in die gemeente geweldig bedreig het. Dit het gegaan oor die vraag of gelowiges van die vleis mag eet wat aan die afgode geoffer is. In sy antwoord op hierdie vraag sluit Paulus by die gebruik van die Nagmaal aan. Die Nagmaal is ‘n fees maal wat vir die kerk die teken en die waarborg is dat hulle aan Christus behoort. Deur die gebruik van die wyn het ons met danksegging deel aan die bloed van Christus en deur die gebruik van die brood het ons deel aan die liggaam van Christus.  Hy het met sy liggaam en bloed betaal dat ons nou weer deel het aan die heerlike gemeenskap  met ons Vader

Ons gemeenskap met mekaar

Wanneer die Korintiërs saam met ander geëet het by die feeste wat vir die afgode gehou is was die betekenis daarvan dat hulle ook gemeenskap met daardie mense het. Die Gees bevestig deur Paulus dat die kinders van die Here wat nou deel aan Hom het juis die gemeenskap met mekaar moet opsoek en daarin moet deel. As gelowiges wat nou een met Christus is moet ons eindelik ook daardie eenheid met mekaar opsoek sodat die Here daardeur geëer sal word. Ons deel daarom as gemeente die groot genade van die Vader se liefde vir ons soos Hy dit in Christus se kruisdood en opstanding bekend gemaak het.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aand diens

Sing: Ps. 104:1,8,9; Ps. 107:1,2; Ps. 138:1,2.

Lees: Matt 26:17-30; Son 29

Teks: Son 29

Tema: Christus leer en troos ons deur sy geestelike teenwoordigheid in die nagmaal.

 

Matt 26:17-30

17EN op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet?

18En Hy antwoord: Gaan na die stad na 'n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels.

19Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei.

20En toe dit aand geword het, was Hy met die twaalf aan tafel.

21En terwyl hulle eet, sê Hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.

22Toe word hulle baie bedroef en begin elkeen van hulle aan Hom te sê: Is dit miskien ek, Here?

23Toe antwoord Hy en sê: Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai.

24 Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.

25En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê.

26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

27Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.

28Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

29Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.

30 En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

 

 

Sondag 29

 

Vraag 78: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van sonde self is nie, maar slegs ’n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van Christus genoem (d).

(a) Matt 26:29. (b) Ef 5:26; Tit 3:5. (c) 1 Kor 10:16; 11:26. (d) Gen 17:10, 11; Eks 12:11, 13; 13:9; 1 Pet 3:21; 1 Kor 10:3, 4.

Vraag 79: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het. (a) Joh 6:55. (b) 1 Kor 10:16.

 

Tema: Christus leer en troos ons deur sy geestelike teenwoordigheid in die nagmaal.

Die aard van Christus se teenwoordigheid.

Een van die kwessies wat sentraal in die stryd van die reformasie gestaan het was die kwessie oor Christus se teenwoordigheid in die nagmaal. Rome het geleer dat Christus in die nagmaal brood en wyn self teenwoordig is. Die brood verander fisies in sy liggaam en die wyn in sy bloed. Christus onderrig sy dissipels by die instelling van die Nagmaal dat die brood tog sy liggaam is en die beker sy bloed. Die bedoeling hiervan is egter dat hulle sal weet dat hulle deel het aan alles wat Hy is en wat Hy vir sy kinders aan die kruis doen.

Die onderrig in Christus se teenwoordigheid.

Deur hierdie geestelike teenwoordigheid van Christus in die nagmaal onderrig Hy ons in verband met sy verdienste. In sy verdienste word ons voor die kwessie van  lewe en dood gestel. Deur die sonde het ons die verbond waarbinne ons Vader ons gestel het gestel het oortree. Dit is alleen deur sy gehoorsaamheid dat ons weer kan lewe. Om waarlik te kan lewe moet ons eet en drink. Soos wat die brood en wyn noodsaaklik is vir ons liggaamlike voortbestaan in hierdie bedeling het ons die liggaam en bloed van Christus nodig vir ons ewige bestaan in ‘n verhouding met die Here.

Die troos in Christus se teenwoordigheid.

Hierdie onderrig van Christus se teenwoordigheid in die Nagmaal het ten doel om ons in hierdie lewe te versterk en te vertroos. Terwyl ons wag op die wederkoms van Christus kan ons seker wees dat Hy ons sal vertroos met sy teenwoordigheid in ons lewe. Hy het deur sy Gees onder ons kom woon deur sy Gees troos Hy ons in die midde van al ons bekommernisse. Die Heilige Gees herinner en verseker ons dat ons sy Bruidskerk is en dat Hy ons so liefhet dat Hy sy lewe vir sy kerk afgelê het.