Preek Sketse - 2 November 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

2 November 2025

Oggend diens

Sing: Ps. 122:1,2; Ps. 116:10; Ps. 31:1,2,12; Skr. 45:1,6; Ps. 68:1,12.

Lees: Neh. 4:1-23

Teks: Neh. 4:14

Tema: Die Here is groot en gedug, hy versterk ons dat ons vreesloos in die stryd kan volhard.

 

NEHEMIA 4:1-23

 

1 Toe Sanballat hoor ons bou die muur, was hy woedend. Hy het met groot ergernis smalend teen die Judeërs uitgevaar

2 en vir sy medeamptenare en vir die soldate in Samaria gesê: “Waarmee is die arme Judeërs besig? Wil hulle vir hulle 'n stadsmuur bou? Wil hulle offerandes bring en in een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe laat herleef uit daardie hope stof en as?”

3 Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as 'n jakkals daarteen spring!”

4 Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat dié smaad op hulle eie kop afkom, laat hulle gevangenes word in 'n land van ballingskap!

5 Moenie hulle oortreding vergewe nie, moenie dat hulle sonde ooit voor U uitgewis word nie! Hulle het die bouers beledig!

6 Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou. Die mense se hart was in die werk.

7 Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod was hewig ontsteld toe hulle hoor die herstel aan Jerusalem se mure vorder en die afgebreekte gedeeltes is byna klaar opgebou. 8 Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te stig.

9 Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit.

10 Die Judeërs het begin kla:

“Die draers se kragte gee in,

die puin is te veel.

Ons gaan dit nie regkry

om die muur klaar te bou nie.”

11 Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie.

12 Ons is egter keer op keer gewaarsku deur Judeërs wat naby ons vyande gewoon het en van oral af na ons toe gekom het.

13 Ek het die volk, gewapen met swaarde, spiese en pyle en boë, familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie.

14 Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.”

15 Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe.

16 Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs

17 wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand 'n wapen vasgehou.

18 Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly.

19 Ek het vir die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk gesê: “Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af.

20 Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. Ons God sal vir ons die stryd voer.”

21 Ons het met die werk aangegaan, die helfte van die manne met spiese in die hand, van dagbreek af tot die sterre uitgekom het. 22 Ek het dié tyd ook vir die volk gesê: “Elke man met sy handlanger moet in Jerusalem oornag, sodat hulle snags vir wagdiens en bedags vir die werk beskikbaar is.”

23 Nie ek of my medeamptenare of my dienaars of die wagte by my het kans gekry om ons klere uit te trek nie en selfs by die water het ons ons wapens gereed gehou.

 

Tema: Die Here is groot en gedug, hy versterk ons dat ons vreesloos in die stryd kan volhard.

 

Die aanslag wat ons voel

Ons ervaar dikwels die aanslag van die duiwel in ons geloofslewe, veral wanneer ons in gehoorsaamheid aan die Here wil leef. In die tyd wat Nehemia in beheer is van die volk se werk om die muur van Jerusalem op te bou kom die aanslag van die duiwel deur Sanbalat en sy vriende wat teen Israel wil oorlog maak. Nehemia reageer op hierdie aanslag deur sy toevlug in gebed na die Here te neem. Die aanslag teen die kinders van die Here is ook ‘n aanslag teen die Here self.

 

Die stryd wat ons stry

Die volk het nie in vrees vir die aanslag terug gedeins en met hulle werk opgehou nie. Onder aansporing van Nehemia moet hulle vortgaan met hulle bouwerk terwyl hulle ook gereed staan om die stryd teen die Sanbalat te stry. Hulle is daarom elke dag besig met die troffel in die een hand, en die swaard in die ander. Hulle stryd gaan nie maar net daaroor dat hulle die muur moet klaar bou nie, maar hulle stryd is ter wille van  hulle vroue en hulle kinders. Die opbou van die tempel se muur is ook die opbou van die volk.

 

Die Here is groot en gedug

Die volk se vertroue moet nie op hulle eie bou werk en die stryd wat hulle stry wees nie, maar op die Here wat groot en gedug onder hulle is. In hulle geskiedenis het die groot dade van die Here vir die volk groot verlossing gebring. Die feit dat God gedug is sien ons in die dood en opstanding van Christus wat die Stan oorwin het. In Hom is ons nou meer as oorwinnaars, want Hy het aan ons die genade gegee dat ons in ewigheid in die Here se heerlike teenwoordigheid sal leef.

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

 

Aanddiens

Sing: Ps. 33:1,2,3; Ps. 105:5,6; Ps. 34:1,6. 

Lees: Deut. 30:1-10; Son 27.

Teks: Deut. 30:6; Son 27.

Tema: In die doop bevestig God die beloftes van sy seën vir ons en ons nageslag.

 

DEUTERONOMIUM 30:1-10

 

1 “Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek jou voorgehou het, oor jou kom en jy daar tussen al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, daaraan dink

2 en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, 3 sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het.

4 Al is jy verdryf tot in die uithoeke van die aarde, die Here jou God sal jou daar gaan bymekaarmaak en van daar af gaan haal.

5 Hy sal jou terugbring na die land toe wat deur jou voorvaders besit is en jy sal dit in besit neem, en die Here sal aan jou goeddoen en jou meer laat word as jou voorvaders was.

6 Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe,

7 en die Here jou God sal al hierdie strawwe laat neerkom op jou vyande en op jou haters wat jou agtervolg.

8 Dan sal jy terugkom na die Here en Hom gehoorsaam en volgens al sy gebooie lewe wat ek jou vandag beveel.

9-10 Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

 

Sondag 27

Vraag 72: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b). (a) Matt 3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1 Joh 1:7; 1 Kor 6:11.

Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?

Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

Vraag 74: Moet die jong kinders ook gedoop word?

Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (f).

(a) Gen 17:7. (b) Matt 19:14. (c) Luk 1:15; Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand 2:39. (d) Hand 10:47. (e) Gen 17:14. (f) Kol 2:11-I3.

 

 

Tema: In die doop bevestig God die beloftes van sy seën vir ons en ons nageslag.

 

Die fondament van die doop.

Met die eerste lees wil dit voorkom of Son 27 iets van ʼn herhaling van Son 26 is. Daar word in meer detail op die betekenis van die doop as die bad van die wedergeboorte ingegaan en of die doop self ʼn fisiese werking het. Dit is deur die bloed van Christus wat die beloftes en die eise van die verbond in vervulling gaan. Wanneer Moses die wet van die Here herhaal voordat hulle die beloofde land in besit neem herhaal hy weer die bepalings van die verbond. In die gedeelte wat ons gelees het word die fondament van die Here se werk om die verbond te vervul weer bevestig.

 

Die belofte van die doop.

Die teken dat die Here getrou is aan sy beloftes word in die Ou Testament bevestig met die instelling van die besnydenis. Die geestelike betekenis van die hierdie teken wys op die werk van die Here dat Hy die hart van sy volk sal verander en wanneer hy dit gedoen het sal die beloftes van die land en die nageslag weer realiseer. As volk van God sal al sy kinders die beloftes wat deur Christus se bloed vir ons verseël word ontvang. Wanneer God sy beloftes aan sy kinders bevestig kan ons dit met ʼn gelowige hart aanneem.

 

Die ontvangers van die doop.

In die Reformasie het die stryd ook teen die Wederdopers gewoed wat die bekering en die wedergeboorte as ʼn menslike besluit gesien het. Daarom kan kinders nie gedoop word nie. Dit is uit die Skrif wel duidelik dat die beloftes van die verbond ook aan die nageslag gegee. Dit wat God aan sy volk belowe geld ook vir die kinders in God se volk. Ouers het nou die verantwoordelikheid om hierdie beloftes aan hulle kinders te leer sodat hulle in die weg van die Here kan wandel.