Preek Sketse - 30 November 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

30 November 2025

Oggenddiens

Sing: Ps. 84:1,5; Ps. 84:6; Ps. 32:1,6; Ps. 116:3,5,7; Ps. 66:6,7.

Lees: 2 Kor. 5:11-21

Teks: 2 Kor. 5:20

Tema. God het ons met Hom versoen in Christus, daarom kan ons aan die versoening vasgryp

 

2Kor 5: 11-21

 

11 Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is.

12 Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle 'n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie.

13 As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle.

14 Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.

15 En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16 Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18 Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20 Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

 

Tema. God het ons met Hom versoen in Christus, daarom kan ons aan die versoening vasgryp

 

Die feit van die versoening.

Ons hemelse Vader het dit so bepaal dat ons in ʼn bepaalde verhouding met Hom en mekaar moet leef. Deur die sonde het ons egter hierdie verhouding met die Here skade aangedoen en teen Hom in opstand gedoen. Deur sy genade het ons Vader egter voorsien dat ons in Christus weer met hom versoen word. Dit is ʼn feit wat elke gelowige ʼn geweldige troos gee in die stryd van ons lewe. God het reeds die versoening bewerk en daarom kan ons nou in gehoorsaamheid aan Hom leef

 

Die wese van die versoening

Dit is goed dat ons verstaan ons leef in ‘n herstelde verhouding met ons Vader. Die vraag is nou: wat is die wese van die versoening? Dit leer Paulus aan die gemeente met die woorde van vers 20, dat Hy het Hom wat geen sonde geken het nie sonde vir ons gemaak. Christus was die een sonder sonde, maar die Vader het ons sonde op Hom geplaas sodat ons weer met Hom versoen kan word. Ons het nie vir ons sonde betaal nie Christus het dit met sy bloed betaal en so van ons ʼn nuwe skepping gemaak

 

Die verpligting van versoening.

Hierdie feit en wese van die versoening kan ons nie onaangeraak in ons lewe laat nie. Dit beteken nie dat die Here nou een deel gedoen het en nou moet ons die ander deel doen nie. Nee, God het alles gedoen, maar deur die gawe van die Heilige Gees het ons nou ook die roeping om aan daardie versoening vas te gryp. En wanneer ons aan die versoening vasgryp het dit ook ʼn invloed op al die ander verhoudings van ons lewe. Nou het ons die roeping om in al ons verhoudinge as versoendes te leef.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aanddiens

Sing: Ps. 99:1,2,5; Ps. 51:2,3; Ps. 45:1,14,16.

Lees: Matt 18:15-20; Son 31

Teks: Matt 18:18; Son 31

Tema: God gee bediening van die evangelie en die tug as sleutels waarmee die koninkryk oop en toe gesluit word.

 

Matt 18: 15-20

 

15 “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

16 Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

17 En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.

18 “Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.

19 Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,

20 want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

 

Son 31

 

Sondag 31

Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ’n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

(a) Joh 20:21-23; Matt 16:19.

Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog ’n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).

(a) Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.

 

Tema: God gee bediening van die evangelie en die tug as sleutels waarmee die koninkryk oop en toe gesluit word.

 

Die gawe van die sleutels.

In Matt 16 bevestig die Here Jesus Christus openlik aan sy dissipels dat Hy die Christus is. Christus gee aan Petrus die belofte dat hy die sleutels van die hemelryk ontvang en wat hy oop en toe sluit sal so wees. Ons onthou dat Petrus die verteenwoordiger van die dissipels is en daarom weet ons dat die kerk die sleutel mag van Christus ontvang het. Hierdie sleutel mag is nie iets wat die dissipels self verwerf het nie, maar dit word deur Christus aan hulle gegee. Die sleutels wat die Christus aan sy kerk gegee het is die bediening van die evangelie en die tug.

 

Die werking van die sleutels.

Die verkondiging van die Heilige evangelie is die eerste  sleutel tot die koninkryk wat Christus aan sy kerk gegee het. Volgens die bevel van Christus moet die evangelie tot aan al die uithoeke van die aarde verkondig word. Wanneer die dissipels Christus vra oor die grense van vergewing onderrig Hy sy kerk ook oor die bediening van die sleutel. Dit moet aan al die gelowiges saam in die erediens maar ook persoonlik en afsonderlik verkondig word. Wanneer daar verharding teen die verkondiging van die evangelie en die oproep tot bekering is moet die tug volgens die bevel van Christus bedien word.

 

Die doel van die sleutels.

In die kerke dink mense dat die bediening van die tug onnodig is omdat mense dan oor mekaar oordeel. Christus gee egter hierdie sleutels aan sy kerk met ʼn spesifieke doel. Die bediening van die tug hou in die eerste plek die eer van God in die oog. Met erns moet hierdie sleutels hanteer word sodat die welstand van die gemeente ook daarin beskerm word. die hoofsaak gaan in die laaste plek daaroor dat die Here langs hierdie weg tot bekering roep. In hierdie lig mag die kerk van Christus nie nalaat om met alle erns die Woord en die tug aan die kinders van die Here te bedien nie.