Preek Sketse - 9 November 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

9 November 2025

Oggend diens

Sing: Ps. 92:1,2;Ps. 92:6; Ps. 32:1,6; Ps. 1:1,4; Belydenis aflegging, Ps. 134:4; Ps. 9:1,7,10.

Lees: Joh. 12:20-36

Teks: Joh. 12:23

Tema: Christus is verheerlik daarom moet ons hom navolg deur in die geloof in sy lig te wandel

 

Joh 12: 20-36

 

20EN daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid;

21hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien.

22Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.

23Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.

24Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

25 Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.

26As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27 Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom.

28Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.

29En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag gewees het. Ander het gesê: 'n Engel het met Hom gespreek.

30Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.

31Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.

32En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.

33 En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.

34Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?

35En Jesus sê vir hulle: Nog 'n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie.

36So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg.

 

Tema: Christus is verheerlik daarom moet ons hom navolg deur in die geloof in sy lig te wandel

 

Die verheerliking van Christus

Die intog van Christus in Jerusalem was ‘n hoogtepunt vir die volk in die week voor die viering van die Pasga. Hulle erken dat Christus die Messias koning is wat hulle van die hulle vyande sal verlos en wat die heerlikheid van die Here sal herstel wat die volk egter nie verstaan het nie is dat Hy hierdie heerlikheid sal herstel deur die prys van die sonde aan die kruis te betaal. Hy moet eers verneder word en daardeur sal die Vader hom verheerlik. In die geloof wat ons bely staan hierdie verlossingswerk van Christus in die sentrum

 

Die navolging van Christus

Die Grieke wat Christus wou sien moet saam met die skare hoor en verstaan dat Christus eers moet sterf soos ‘n koringkorrel sodat die vrug van sy verlossing aan ons gegee kan word. Die kinders van die Here moet egter self ook die vrug in hulle lewe sigbaar maak deur hom na te volg . Navolging van Christus beteken dat ons hom op die lydensweg sal volg sodat ons kan deel kry aan die heerlikheid van die Vader. Dit eis dat ons onsself sal aflê en die ou mens van ons sondige natuur sal dood maak.

 

Die geloof in Christus

Sonder geloof kan ons Christus nie navolg nie. Die Heilige Gees het aan ons die gawe van geloof geskenk sodat ons nou ons lewensweg in die lig van Christus sal bewandel. Die lig van die evangelie skyn in ons lewe en nou kan ons deur die geloof in die lig wandel. Ons rig dus ons hele lewe volgens die Woord  van die Here. Dit is alleen wanneer ons ons vertroue in Hom stel dat ons in die lig wandel.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

Aanddiens

Sing: Ps. 135:1,2; Ps. 111:1,3,5; Ps. 36:2,3.

Lees: Mar. 14:12-26; Son 28.

Teks: Mar. 14:22-24; Son 28.

Tema: Ons word in die liggaam geestelik gevoed en verkwik deur die liggaam en bloed van Christus.

 

Mar 14: 12-26

 

12 EN op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?

13En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom,

14en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?

15En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak.

16En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei.

17En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.

18En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.

19Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek?

20En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek.

21Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.

22 En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

23Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.

24En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.

25Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God.

26 En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

 

Sondag 28

 

Vraag 75: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?.

Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.

(a) Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20; 1 Kor 10:16, 17; 11:23-25; 12:13.

Vraag 76: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met ’n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word (e).

(a) Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor 6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol 3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6.

Vraag 77: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?

Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui (a): “In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.’ Net so ook die beker ná die ete met die woorde: ‘Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.’ Want so dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor 11:23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: “Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Kor 10:16, 17).

(a) Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20.

 

 

Tema: Ons word in die liggaam geestelik gevoed en verkwik deur die liggaam en bloed van Christus.

 

Die teken van die Nagmaal.

Die Here het die doop en die Nagmaal gegee sodat sy kinders in hulle geloof versterk kan word. Om waarlik versterk te word is dit nodig dat ons weer die wonder van dit wat in die Nagmaal verkondig word sal raaksien. Die laaste aand wat Christus en sy dissipels byeen is voordat Hy gekruisig word, vier hulle die Pasga, maar Christus stel ook die Nagmaal in. Die Pasga het heengewys na die genade werk van Christus wat sal kom maar die nagmaal is die teken van dit wat Christus gedoen het. Daarom is die viering van die Nagmaal ‘n opdrag wat elkeen van die Here se kinders moet gehoorsaam.

 

Die betekenis van die Nagmaal.

Die teken van brood en wyn wat ons in die Nagmaal gebruik het nou verder betekenis in ons lewe. Hierdie betekenis vind ons in die sekerheid wat die Nagmaal aan ons gee. Ons kan seker wees dat die liggaam van Christus vir my gebreek is en sy bloed vir my gevloei het so seker as wat ek die brood en die wyn eet en drink. Die verdere sekerheid vind ek daarin dat die brood en die wyn teken daarvan is dat sy liggaam en bloed my vir die ewige lewe voed en verkwik. Die sekerheid wat ons het word duidelik aan ons geleer dat hierdie gawes my persoonlik toekom.

 

Die gemeenskap in die Nagmaal.

Die persoonlike karakter van die Nagmaal bevestig verder aan ons dat die nagmaal ook ‘n gemeenskaplike karakter het. Ons is nie net toeskouers in die nagmaal nie, maar elke gelowige kry persoonlik deel aan ‘n nuwe gemeenskap. Die gemeenskap wat ons aan die tafel van die Here ontvang staan op die basis van die gemeenskap wat ons met Christus het. Ons kry deel aan sy liggaam en bloed en word ons met Hom verenig. Hy regeer in ons lewe en maak in alles met ons bemoeienis.