Preek Sketse - 12 Oktober 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

Oggenddiens

Sing: Ps. 2:1,6; Ps. 145:7; Ps. 142:1,5,6; Ps. 97:4,7; Ps. 150:1,2,3

Lees: Rig. 16:22-31.

Teks: Rig. 16:30

Tema: Christus het ons deur sy dood uit ons sondige verdrukking verlos.

 

Rig 16: 22-31

22 Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.

23 Die leiers van die Filistyne het bymekaargekom om 'n groot offer te bring vir hulle god Dagon en om fees te vier. Hulle het gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee.”

24 Toe die Filistyne hom sien, het hulle hulle god geprys en gesê: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee,

ons vyand wat ons land verwoes het, hy wat so baie van ons doodgemaak het!”

25 Toe die Filistyne lekker vrolik was, het hulle gesê: “Roep vir Simson dat hy ons kom vermaak.”

Hulle het toe vir Simson uit die tronk laat kom, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die tempelpilare laat staan,

26 en hy het vir die helper wat hom aan die hand vasgehou het, gesê: “Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun.”

27 Die tempel was vol mans en vrouens. Al die leiers van die Filistyne was daar, en op die dak was omtrent drie duisend mans en vrouens wat gekyk het hoe Simson hulle vermaak.

28 Toe roep Simson tot die Here: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!”

29 Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander.

30 Toe sê hy: “Laat my sterf saam met die Filistyne.” Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin.

So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.

31 Daarna het sy broers en sy hele familie gekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom gevat en gaan begrawe tussen Sora en Estaol, in sy pa Manoag se graf.

Simson was twintig jaar lank leier van die Israeliete.

 

Tema: Christus het ons deur sy dood uit ons sondige verdrukking verlos.

 

Verlossing te midde van bespotting

In die diepte punt van Simson se ellende word die wonderbaarlike verlossingswerk van Christus weer vir ons sigbaar. Die Filistyne was onder die indruk dat hulle god Dagon eintlik die God van Israel oorwin het. Daarom laat hulle Simson kom om by die fees te ere van Dagon die skare te kom vermaak. Hulle bespotting met Simson is dus eintlik ʼn bespotting van die Here self. Christus is egter ook bespot en geslaan en verneder deur ʼn goddelose skare sodat Hy die spot moes dra wat oor ons moes kom. Tog is dit deur die bespotting wat die Here die weg vir verlossing oopmaak.

 

Verlossing deur herstel

Terwyl Simson reeds in die gevangenis was het hy bewus geword dat sy hare weer begin groei het. Die bedoeling is nie dat sy krag letterlik in sy hare gesit het nie, maar dit was die teken dat die Here weer herlewing gee. Dit was die teken dat God se Gees weer vaardig sal word in Simson want hy is die een wat die taak het om Israel onder die juk van die Filistyne te verlos. Daarom Gee die Here weer herstel in die krag van Simson. Vir die mens om weer in die diens van die Here te staan moet daar ʼn volkome herstel in sy lewe plaasvind. Christus gee hierdie herstel aan ons in die gawe van sy Heilige Gees wat in ons woon en aan ons nuwe lewens krag gee

 

Verlossing deur opoffering

Die verlossing wat Simson uiteindelik vir die volk bewerk gebeur wanneer hy die pilare van die tempel van Dagon omstoot. In sy dood het hy meer van die Filistyne doodgemaak as wat hy in sy lewe as rigter gedoen het. die Here het hierdie swak mens gebruik om vooruit te wys na die koms van die volmaakte verlosser wat sy lewe gegee het om ons van ons doodsvyand te verlos. Christus het gesterwe sodat ons kan lewe. Nou moet ons opnuut voor die aangesig van God en tot eer van sy naam lewe.