|
Preek Sketse - 19 Oktober 2025
Oggend diens—Dr Christiaan Jooste 19 Oktober 2025 Oggend diens Sing: Ps. 149:1,2; Ps. 20:5; Ps. 40:4; Skr. 24:1,6; Ps. 118:1,14. Lees: Matt. 18:15-20 Teks: Matt. 18: 20 Tema: Christus is in ons midde daarom kan ons op mekaar ag gee
Matt 18: 15-20
15 “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16 Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17 En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel. 18 “Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. 19 Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20 want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
Tema: Christus is in ons midde daarom kan ons op mekaar ag gee Christus in ons midde Daar gaan al meer stemme in die wêreld op dat die kerk geen nut meer in vandag se lewe het nie. Geloof het vir baie ‘n persoonlike saak geword wat hulle in hulle persoonlike lewe en ruimte kan uitleef. Die Here maak egter aan ons bekend dat dit sy wil is dat sy kinders saam met mekaar sal vergader en Hom aanbid. Jesus Christus is besig om sy dissipels te onderrig oor die gelowiges se lewe in die Koninkryk. Christus leer hulle oor die wyse waarop hulle verskille moet hanteer as burgers van die koninkryk. Te midde daarvan moet helle weet dat Christus in hulle midde is. Ons vergader saam met mekaar In die onderrig wat ons Here Jesus aan sy dissipels gee is daar twee belangrike woorde wat hy gebruik. Die gemeente en die samekoms van die gemeente. Die feit dat Christus die hoof van die gemeente is en dat Hy sy kinders versamel het, beteken dat hierdie gelowiges moet saamkom. Wanneer hulle dan saam vergader kan hulle dan weet dat Christus as die Hoof van die gemeente in hulle midde is. Die samekoms van die gelowiges het ten doel om in gemeenskap met Christus te leef. Ons waak oor mekaar As gelowiges wat saam met mekaar Christus ontmoet het hulle die verantwoordelikheid om saam oor mekaar die wag te hou. Om saam oor mekaar te waak begin by die optrede wanneer een broeder teenoor ‘n ander gesondig het. wanneer sake nie persoonlik uitgesorteer kan word nie moet daar ‘n getuie saam geneem word en dan later moet dit in die gemeente bekend gemaak word. Die hoofsaak is dat die gelowiges in die gemeente, in die liefde van Christus oor mekaar sal waak.
Aand diens—Dr Christiaan Jooste 19 Oktober 2025 Aand diens Sing: Ps. 89:1,6; Ps. 107:1,3,4; Ps. 119:51,54. Lees: Rom. 4:1-17; Son 25 Teks: Son 25 Tema: God werk die geloof in Christus in ons harte deur die bediening van die Woord en sakramente
Rom 4: 1-17
1 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2 As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy 'n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3 Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 4 'n Arbeider se loon word nie vir hom as 'n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5 Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6 So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: 7 “Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. 8 Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.” 9 Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek.” 10 Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11 Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12 Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was. 13 Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14 As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15 Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie 'n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16 Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17 soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.
Son 25
Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ’n geloof dan vandaan? Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (b). (a) Ef 2:8; 6:23; Joh 3:5; Filp 1:29. (b) Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23. Vraag 66: Wat is sakramente? Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a). (a) Gen 17:11; Rom 4:11; Deut 30:6; Lev 6:25; Heb 9:7-9, 24; Eseg 20:12; Jes 6:6, 7; 54:9. Vraag 67: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys? Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is (a). (a) Rom 6:3; Gal 3:27. Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel? Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.
Tema: God werk die geloof in Christus in ons harte deur die bediening van die Woord en sakramente God werk die geloof. Die mens het deur die geskiedenis baie geworstel oor waar die geloof in God vandaan kom. Vandag is daar baie wat dink dat die geloof in God eintlik maar in die mens self ontstaan het. Dat die mens geloof uitgedink het om sekere onverstaanbare verskynsels te verduidelik. Die Skrif en die belydenis leer die gelowiges egter anders. Geloof het nie sy oorsprong in die mens nie, maar by God. Hy wek die geloof deur die Heilige Gees in die harte van sy kinders op deur die lewende verkondiging van die evangelie en versterk dit deur die bediening van die sakramente. In die bediening van die evangelie is alles uit eindelik daarop gemik om heen te wys na die sterwe van Christus. Wanneer die uitverkore kinders van God verkondiging van die Woord in Gees en waarheid hoor sal die geloof gewerk word. God versterk die geloof. Die geloof word nie net aan die kinders van die Here gegee en dan laat staan nie. Die Here het deur sy genade nog verdere tekens en seels voorsien wat die geloof versterk. In die sakramente word die betekenis en die verdienste van Christus aan die kruis op ʼn sigbare en tasbare manier aan God se kinders bedien. Op hierdie manier kan ons die beloftes van die evangelie nog beter verstaan. Die beloftes wat vir ons in die doop afgebeeld word is dat al ons sonde op grond van Christus se verdienste aan die kruis vergewe is en dat ons op grond daarvan deel het aan die ewige lewe. Sy offer aan die kruis is die enigste grond van die ons geloof, ons lewe en ons saligheid. Dit word in Woord en sakrament aan ons geleer. |
