Preek Sketse - 26 Oktober 2025

 

Oggend diens—Dr Christiaan Jooste

26 Oktober 2025

Oggend diens

Sing: Ps. 104:1,2,14; Ps. 104:20; Ps. 24:3,4; Ps. 118:1,2; Ps. 135:2,8.

Lees: Deut. 10:10-22

Teks: Deut. 10:16

Tema: Die Here volkome oorgawe aan Hom omdat Hy ons liefhet.

 

Deut 10: 10-22

 

10 Moses het verder gesê: “Soos die eerste keer het ek veertig dae en nagte op die berg gebly. Ook hierdie keer het die Here na my geluister. Hy wou jou nie meer uitroei nie.

11 Toe het Hy vir my gesê: ‘Jy moet die volk laat wegtrek en hulle lei sodat hulle die land kan binnegaan en in besit neem. Dit is die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee.’

12 “En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel.

13 Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

14 Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

15 En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

16 “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17 Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

18 “Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.

19 Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte.

20 Jy moet die Here jou God eer, Hom dien en aanhang, en wanneer jy 'n eed aflê, moet jy dit in sy Naam doen.

21 Jy moet Hom prys, want Hy is jou God en Hy het al hierdie magtige wonderdade wat jy met jou eie oë gesien het, vir jou gedoen.

22 Toe jou voorvaders Egipte toe is, was hulle net sewentig; maar nou het die Here jou God jou so baie gemaak soos die sterre in die lug.”

 

Tema: Die Here volkome oorgawe aan Hom omdat Hy ons liefhet.

 

Die liefde van die Here

Wanneer Israel op die punt staan om die beloofde land in te neem kan hulle in hulle geskiedenis terugkyk en sien dat die Here vir hulle waarlik goed is. Hy het hulle deur die woestyn gelei en hulle vir veertig jaar versorg in sy genade. Dit is besonders dat die Here se sorg vir sy volk nie op hulle eie vermoë berus het nie, maar dat Hy juis uit sy Almag en genade hulle gekies het. Die Here openbaar Homself aan die volk as die almagtige wat oor alles in sy skepping heers. Hy openbaar Hom egter ook in sy liefde en welgevalle. Die Here het ook nie met sy volk bemoeienis gemaak omdat hulle Hom as hulle Here gekies het nie, of omdat hulle goeie en besondere offers gebring het nie, maar alleen omdat Hy die Almagtige is. Hierdie liefde en genade openbaar die Here vandag aan sy kerk in Jesus Christus. In Hom ontvang ons die groot genade van ons Almagtige God.

 

Die eis van die Here

Die Here maak Hom bekend as die Almagtige wat in ‘n verbondsverhouding met sy volk in die beloofde land sal leef. Om in hierdie verhouding te leef eis dat die Here dat sy volk aan Hom gehoorsaam sal wees. Maar so gehoorsaamheid begin by die regte hartsgesindheid van Israel. Die Here het die opdrag gegee dat alle seuntjies op agt dae ouderdom besny moet word. Dit is die teken dat hulle aan die Here behoort. Om met die Here in ‘n verhouding te leef vra nie net ‘n uiterlike teken nie, maar ‘n innerlike hartsgesindheid van totale oorgawe aan Hom. Wanneer die volk so in oorgawe aan die Here leef en in dankbaarheid aan sy eise gehoorsaam is, sal hulle ook in naaste liefde met mekaar en met die vreemdelinge rondom hulle leef.

 

 

Aand diens—Dr Christiaan Jooste

26 Oktober 2025

Aand diens

Sing: Ps. 75:1,2,4; Ps. 100:1,2,3,4;  Ps. 18:9,11

Lees: Eks. 19; Son 26.

Teks: Eks.19:10

Tema: Die doop sien ons dat ons deur die bloed van Christus geheilig en gewas is om God te ontmoet.

Die werking van die doop.

 

Eks 19: 1-17

 

1 Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom.

2 Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg.

3 Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:

“So moet jy vir die nageslag van Jakob sê,

vir die Israeliete vertel:

4 “ ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het.

5-6 As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, 'n koninkryk wat My as priesters dien, en 'n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

7 Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.

8 Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”

Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.

9 Toe het die Here vir Moses gesê: “Ek kom na jou toe in 'n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanneer Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.”

Toe Moses alles wat die volk geantwoord het, aan die Here gaan meedeel het,

10 het die Here ook nog vir hom gesê: “Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was.

11 Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk.

12 Jy moet rondom die berg vir die volk 'n grens vasstel en vir hulle sê: Julle moet oppas om nie op die berg te klim of selfs aan sy helling te raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.

13 “Julle mag so iemand nie met die hand aanraak nie; hy moet beslis met klippe doodgegooi of met 'n pyl doodgeskiet word. Dit maak nie saak of dit 'n mens of 'n dier is nie; hy mag nie bly lewe nie. Eers wanneer die ramshoring blaas, mag hulle die berg uitklim.”

14 Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was

15 en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby 'n vrou kom nie.”

16 Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en 'n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe.

17 Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18 Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van 'n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud,

19 en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

20 Toe die Here na die top van Sinaiberg toe afgekom het, het Hy vir Moses na die top van die berg toe geroep. Moses het daarheen opgeklim,

21 en die Here het vir hom gesê: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie deurbreek na My, die Here, toe om na My te kyk nie, want dan sal baie van hulle sterf.

22 Selfs die priesters wat gewoonlik in my teenwoordigheid kom, moet op 'n afstand bly of anders sal Ek hulle laat sterf.”

23 Moses het die Here geantwoord: “Die volk kan nie Sinaiberg bestyg nie, want U self het ons gewaarsku om 'n grens rondom die berg vas te stel en daarvan af weg te bly.”

24 Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan nou af en kom dan saam met Aäron terug. Die priesters en die volk mag nie deurbreek en opklim na My, die Here, toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”

25 Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê.

 

Son 26

 

Vraag 69: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.

(a) Matt 28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16; Hand 2:38; Joh 1:33; Matt 3:11; Rom 6:3, 4. (c) 1 Pet 3:21; Mark 1:4; Luk 3:3.

Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).

(a) Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.

Vraag 71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees...” (Matt 28:19); en: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit 3:5; Hand 22:16).

 

Tema: Die doop sien ons dat ons deur die bloed van Christus geheilig en gewas is om God te ontmoet.

 

Die werking van die doop.

In Sondag 25 het ons bely dat die Here aan ons die sakramente gegee het om ons in ons geloof te versterk en op die verdienste van Christus te wys. Een van hierdie sakramente is die doop. Die saak waaroor dit in die doop gaan is dat ons harte weer gerig en versterk word op die offer van Christus aan die kruis. Sy bloed het gevloei om ons van al ons sondes te was. Die afwassing van die sonde het reeds in die Ou Testament ʼn baie belangrike rol gespeel. Wanneer Israel by die berg Sinai aanland, waar God sy wet aan die volk gaan gee, moet hulle eers geheilig word en hulle klere eers gewas word. Hulle kan nie met die vuilheid voor die aangesig van die Here verskyn nie. Die doop herinner ons dat ons deur die bloed van Christus en die Heilige Gees geheilig is.

 

Die betekenis van die doop.

Die heiliging deur die bloed van Christus het natuurlik vir al God se kinders ʼn wonderbaarlike die betekenis. In ons belydenis word hier twee duidelike sake vir ons aangedui. Die eerste betekenis waarvan die doop ons verseker is dat ons sonde ter wille van die bloed van Christus vergewe is. Vergifnis beteken dat God aan die sonde nie meer dink nie, dit is uitgewis soos wat die water vuilheid afwas. Die tweede saak van ons belydenis wys daarop dat ons deur die Heilige Gees  opgewek word in ʼn nuwe lewe. as gedooptes wat die afwassing van die sonde ontvang het kan ons nou nie meer in die ou sondige natuur verkleef bly nie. die sonde moet so hoe langer hoe meer afgesterwe word.

 

Die getuienis van die doop.

Die laaste saak wat in hierdie Sondagsafdeling aan die orde kom is hoe kan ons weet dat Christus dit gedoen het. die antwoord is duidelik, dat Hy dit betuig het met die instelling van die doop. Die Skrif is die betroubare getuienis dat Hy ons afgewas het en dat Hy ons deur sy Gees opgewek het in ʼn nuwe lewe. Op grond van hierdie getuienis kan ons seker wees dat ons nou reeds deel het aan die nuwe lewe. So wys die doop ons op die werk van Christus ons Verlosser.