Preek Sketse - 14 September 2025

 

Oggend diens—Dr Cristiaan Jooste

Sing: Ps. 118:1,7; Ps. 118: 12; Ps. 43:1,3; Ps. 139:1,10,11; Ps. 66:4,8,9

Lees: Rigters 14

Teks: Rigters 14:4

Tema: Ons Vader sal sy raad volbring ondanks ons menslike sondigheid.

 

Rigters 14

1 Toe Simson afgegaan het na Timna, sien hy in Timna 'n vrou uit die dogters van die Filistyne;

2 en hy het opgegaan en dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê: Ek het 'n vrou uit die dogters van die Filistyne in Timna gesien; neem haar dan nou as vrou vir my.

3 Maar sy vader en sy moeder sê vir hom: Is daar onder die dogters van jou broers en onder my hele volk nie 'n vrou, dat jy heengaan om 'n vrou uit die Filistyne, die onbesnedenes, te neem nie? En Simson sê aan sy vader: Neem haar vir my, want sy geval my.

4 Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE kom nie; want hy het rede gesoek teen die Filistyne; in dié tyd naamlik het die Filistyne oor Israel geheers.

5 En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar 'n jong leeu brullende op hom af. 

6 Maar die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur soos 'n mens 'n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie.

7 Toe gaan hy af en praat met die vrou; en sy het Simson geval. 

8 En 'n tyd daarna het hy teruggegaan om haar te gaan haal; en toe hy uitdraai om na die dooie leeu te kyk, was daar 'n swerm bye in die dooie liggaam van die leeu, en heuning.

9 En hy het dit uitgehaal in sy hande en aldeur geloop en eet, en na sy vader en sy moeder gegaan en aan hulle gegee; en hulle het geëet, maar dat hy die heuning uit die dooie liggaam van die leeu uitgehaal het, vertel hy hulle nie.

10 Daarop gaan sy vader na die vrou toe af, en Simson het daar 'n maaltyd berei; want so het die jongmanne gewoonlik gedoen.

11 En toe hulle hom sien, neem hulle dertig vriende om by hom te wees.

12 En Simson sê aan hulle: Laat my tog vir julle 'n raaisel opgee; as julle dit vir my reg uitlê gedurende die sewe dae van die maaltyd en dit uitvind, dan sal ek julle dertig hemde en dertig stel klere gee;

13 maar as julle dit vir my nie kan uitlê nie, dan moet júlle my dertig hemde en dertig stel klere gee. Toe sê hulle vir hom: Gee maar jou raaisel op, dat ons dit hoor.

14 En hy sê vir hulle: Spys het uit die eter uitgegaan, en soetigheid uit die sterke. En drie dae lank kon hulle die raaisel nie uitlê nie.

15 En op die vierde dag sê hulle aan die vrou van Simson: Haal jou man oor dat hy die raaisel vir ons uitlê, anders verbrand ons jou en die huis van jou vader met vuur;

het julle ons genooi om ons te berowe, of hoe?

16 Toe huil die vrou van Simson by hom en sê: Jy haat my net en het my nie lief nie; jy het my volksgenote die raaisel opgegee, maar vir my het jy dit nie uitgelê nie. En hy antwoord haar: Kyk, vir my vader en my moeder het ek dit nie uitgelê nie, sou ek dit dan vir jou uitlê?

17 Maar sy het die sewe dae wat hulle maaltyd geduur het, by hom gehuil; en op die sewende dag het hy dit vir haar uitgelê; want sy het hom gepers en so die raaisel vir haar volksgenote uitgelê.

18 Daarop sê die manne van die stad aan hom op die sewende dag voor sonsondergang: Wat is soeter as heuning, en wat is sterker as 'n leeu? En hy antwoord hulle: As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle my raaisel nie geraai het nie.

19 En die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword. Toe gaan hy af na Askelon en slaan dertig man van hulle dood, en neem hulle uitrustings en gee die stelle klere aan die wat die raaisel uitgelê het; en hy het kwaad geword en opgegaan na die huis van sy vader.

 

Tema: Ons Vader sal sy raad volbring ondanks ons menslike sondigheid.

 

Die ellende van die sonde.

Dit is opmerklik dat daar in die geskiedenis van Simson ʼn stryd tussen sy sondige menslike natuur is en die verlossingsplan van God. Simson is deur God geroep om te begin om Israel uit die hand van die Filistyne te verlos. In die geskiedenis wat ons gelees het sien ons Simson wat van begeerte brand om met ʼn Filistynse vrou te trou. Die een wat hulle moet verlos is besig om homself aan die vyand te verloof. Behalwe vir die verlowing aan ʼn Filistyn sien ons dat Simson baie roekeloos met die gelofte van sy Nasireërskap omgaan. Hy hou vir die 30 vriende ʼn drinkparty terwyl hyself nie drank oor sy lippe mag neem nie. Toe hy die leeu doodgemaak het, het hy weer na die karkas gaan kyk terwyl die nasireër nie naby aan ʼn lyk of karkas mag kom nie. Deur die geskiedenis van Israel sien ons dat die Here diensknegte in sy diens roep, maar ons sien dat hulle ook maar swak sondaar mense is.

 

Die wonder van die verlossing.

Te midde van die sonde wat nog so sigbaar in die lewe van Simson figureer het die Here tog sy verlossingsplan laat realiseer. Hy begin om Israel te verlos deur Simson wat 30 Filistyne doodmaak om hulle klere te neem.

Dit is opmerklik dat die verlossingswerk van Simson begin wanneer die Gees van de Here oor hom vaardig word. Dit is in die krag van die Heilige Gees dat die Here tog sy ampsdraer gebruik om sy werk te volbring. Die lewe van Christus is die profetiese vervulling van Simson se tydperk as rigter in Israel. waar Simson egter voortdurend in die sonde geval het, het Christus teen die sondige aanvegtinge van die Satan gestry en oorwin. Nou kan ons deur die krag van Christus volhard in die stryd teen die sonde met die vaste sekerheid dat ons meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons liefgehad het. Hy het sy Gees aan ons gegee om ons te versterk sodat ons ons roeping kan uitvoer.

 

Aand diens—Dr Cristiaan Jooste

 

Sing: Ps. 146:1,2,3; Ps. 73:10,12; Ps. 68:9,16

Lees: Psalm 73; Son 22

Teks: Psalm 73:23-24

Tema: Ons sal na liggaam en siel uit die dood opstaan om ewig by die Here te wees.

 

Psalm 73

 1 'n Psalm van Asaf. Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is.

2 Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly.

3 Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien.

4 Want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam.

5 In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie.

6 Daarom is die trots om hulle soos 'n halssieraad, die geweld bedek hulle soos 'n gewaad.

7 Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor.

8 Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte.

9 Hulle stel hul mond teen die hemel, en hul tong wandel op die aarde.

10 Daarom draai hulle mense hul hierheen, en waters in volheid word deur hulle geslurp.

11 En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?

12 Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!

13 Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.

14 Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.

15 As ek gesê het: Ek wil óók so spreek-  dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders!

16 Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë,

17 totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.

18 Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.

19 Hoe word hulle in 'n oomblik 'n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge!

20 Soos 'n droom nadat 'n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld!

21 Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was,

22 toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was 'n dier by U.

23 Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat.

24 U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.

25 Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.

26 Al beswyk my vlees en my hart-  God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.

27 Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer.

28 Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.

 

Heidelbergse Kategismus – Sondag 22

SONDAG: 22 - VRAAG EN ANTWOORD: 57 Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie, maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

SONDAG: 22 - VRAAG EN ANTWOORD: 58 Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys.

 

Tema: Ons sal na liggaam en siel uit die dood opstaan om ewig by die Here te wees.

 

Ons siel word nou opgeneem by Christus

Die Gees gee aan ons die wonderlike gawe dat ons as kinders van die Here in die gemeenskap van heiliges voor die aangesig van die Here kan leef. Die Gees verseker ons nie net van dit wat Christus gedoen het nie, maar Hy bevestig ook aan ons die beloftes wat Christus gegee het, naamlik die opstanding van die liggaam en die ewige lewe. In Psalm 73 worstel die digter met die realiteit dat dit lyk of dit altyd met die goddelose mense goedgaan. Maar dan word hy getroos met die wete dat hy in die heerlikheid van die Here opgeneem sal word.

 

Ons liggaam sal verheerlik word deur Christus

Die mens is egter nie net ʼn geestelike wese na sy afsterwe nie. Die belydenis van die opstanding van die liggaam gee ook die troos dat hierdie liggaam wat nou tot sterwe kom ook eendag sal opstaan en as ʼn verheerlikte liggaam by Christus wees. Wanneer die basuin blaas en die grafte geopen word sal die mens in sy volheid by die Here wees. Hierdie liggaam sal egter ʼn verheerlikte liggaam wees wat aan die heerlike liggaam van Christus gelyk sal wees. Die opwekking van die liggaam geskied deur die lewewekkende werk van die Heilige Gees wat Christus ook uit die dood opgewek het.

 

Ons sal ewig lewe saam met Christus.

Die heerlike prys van die opstanding van die liggaam is dat ons verenigde liggaam en sien tot in ewigheid in die heerlikheid van God sal lewe. Hierdie lewe is iets wat ons reeds in hierdie bedeling ontvang. Deur die Woord word ons daarvan verseker en deur die Gees wek dit ʼn heerlike vreugde in ons gemoed. Vanuit hierdie vreugde sal ons in teenwoordigheid van God leef om Hom na liggaam en siel tot in ewigheid te prys. Al blyk dit dat ons in ʼn onregverdige wêreld leef is kan ons getroos word dat ons in ewigheid met God sal