Preek Sketse - 21 September 2025

 

Oggend diens—Dr Cristiaan Jooste

Sing: Ps. 122:1,2; Ps. 9:7; Ps. 25:2,6; Ps. 46:1,4; Ps. 68:10,12.

Lees: Rig 15

Teks: Rig. 15:12

Tema: God voer as koning sy verlossingsplan deur ondank ons sondige verwerping.

RIGTERS 15

1MAAR 'n tyd daarna het Simson in die dae van die koringoes sy vrou besoek met 'n bokkie en gesê: Laat ek na my vrou in die kamer ingaan; maar haar vader het hom nie toegelaat om in te gaan nie.

2En haar vader het gesê: Ek het vir seker gedink dat jy niks om haar gee nie; daarom het ek haar aan jou metgesel gegee; is haar jonger suster nie mooier as sy nie? Laat sy tog joue word in haar plek.

3Maar Simson het vir hulle gesê: Hierdie keer is ek onskuldig teenoor die Filistyne as ek hulle kwaad aandoen.

4Toe gaan Simson weg en vang driehonderd jakkalse; en hy neem fakkels en draai stert teen stert, en sit 'n fakkel in die middel tussen elke twee sterte in;

5en hy steek die fakkels aan die brand en los hulle in die ongesnyde graan van die Filistyne; en hy het die miede sowel as die ongesnyde graan en die wingerde en olyfbome aan die brand gesteek.

6Toe vra die Filistyne: Wie het dit gedoen? En hulle sê: Simson, die skoonseun van die Timniet, omdat dié sy vrou geneem en haar aan sy metgesel gegee het. En die Filistyne het opgetrek en haar en haar vader se huis met vuur verbrand.

7Daarop sê Simson vir hulle: As julle so maak, sal ek sekerlik nie rus voordat ek my op julle gewreek het nie.

8En hy het hulle lendelam geslaan, 'n groot slag. En hy het afgegaan en gebly in die rotskloof van Etam.

9Toe trek die Filistyne nader en slaan laer op in Juda en sprei hulleself uit by Legi.

10En die manne van Juda vra: Waarom het julle teen ons opgetrek? En hulle sê: Ons het opgetrek om Simson te bind, om aan hom te doen soos hy aan ons gedoen het.

11Daarop trek drieduisend man uit Juda af na die rotskloof van Etam en vra vir Simson: Weet jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie, en wat het jy ons nou aangedoen? En hy sê aan hulle: Soos hulle aan my gedoen het, so het ek aan hulle gedoen.

12Toe sê hulle vir hom: Ons het afgekom om jou te bind, om jou oor te gee in die hand van die Filistyne. En Simson sê aan hulle: Sweer vir my dat julle nie self op my sal aanval nie.

13En hulle antwoord hom: Nee, ons sal jou net vasbind en oorgee in hulle hand, maar doodmaak sal ons jou stellig nie. Daarop bind hulle hom vas met twee nuwe toue en bring hom op uit die rots.

14Toe hy tot by Legi kom, juig die Filistyne hom tegemoet; maar die Gees van die Here het oor hom vaardig geword, en die toue wat aan sy arms was, het geword soos linnedrade wat in die vuur brand, en sy bande het versmelt van sy hande af.

15En hy het 'n vars eselskakebeen gevind en sy hand uitgesteek en dit geneem en daar duisend man mee verslaan.

16En Simson het gesê: Met 'n eselskakebeen het ek een klomp, twee klompe, met 'n eselskakebeen het ek duisend man verslaan.

17En toe hy klaar gespreek het, gooi hy die kakebeen uit sy hand en noem dié plek Kakebeenshoogte.

18Daarop kry hy baie dors en roep die Here aan en sê: U het deur die hand van u kneg hierdie groot verlossing gegee, en moet ek nou van dors sterwe en in die hand van die onbesnedenes val?

19Toe kloof God die holte wat by Legi is, en daar kom water uit; en hy het gedrink, en sy gees het teruggekom, en hy het weer opgelewe. Daarom noem hulle dit Roepersfontein, wat vandag nog by Legi is.

20En hy het Israel gerig in die dae van die Filistyne, twintig jaar lank.

 

Tema: God voer as koning sy verlossingsplan deur ondank ons sondige verwerping.

 

God openbaar sy koningskap.

Die Here het die verlossingswerk van Israel uit die hand van die Filistyne met die dood van 30 Filistyne begin. In die verdere verloop van die geskiedenis word die regeermag nog meer duidelik. Hy gebruik Simson, ondanks al sy verkeerde motiewe steeds in sy diens om eindelik sy raad uit te voer. Hy is nie net die God van die Israeliete nie, maar die Almagtige God wat oor alle volke nasies en tale regeer. Die uitvoering van God se koningskap bring vir sy kinders groot troos wanneer ons voortdurend onder die aanslag van die sonde kom want Hy regeer en oorwin.

 

Ons sondige verwerping

Te midde van die troos wat die volk kan vind in die regeermag van God tree hulle tog op ʼn dwase manier op. Wanneer die Filistyne teen Israel laer opslaan om hulle te dwing om Simson oor te lewer kan hulle dit nie vinnig genoeg doen nie. Dit is duidelik dat hulle al so gemaklik geraak het onder die juk van die Filistyne dat hulle nie meer die verlossingswerk van God in die optrede van Simson raaksien nie. So het die Jode ook vir Christus verwerp toe Hy as verlosser opgetree het. So is ons ook geneig om die wat vir die eer van God wil stry tee te gaan net om die vrede in ons wêreldse bestaan te bewaar

 

God gee die oorvloed van sy genade.

Ondanks hierdie dwase optrede van die volk gaan die Here ongestoord voort met sy verlossings werk. Simson slaan 1000 man met ʼn

eselskakebeen dood. Die Gees van God dryf hom steeds om as rigter op te tree en die verlossing te bewerk. Maar selfs Hy het ook behoefte aan die genade van die Here. Na die slag word hy geweldig dors. Die Here versorg Hom en gee aan hom water sodat Hy kan lewe en verder vir 20 jaar as rigter kan optree. In sy koningskap versorg hy ons in al ons behoeftes dat ons getrou in sy diens kan staan sodat ons ook kan doen waartoe Hy ons geroep het.

 

 

 

Aand diens—Dr Cristiaan Jooste

 

Sing: Ps. 19:1,6; Ps. 24:1,2; Ps. 86:6,8.

Lees: 1 Kor. 1:17-2:16; Son 23

Teks: 1 Kor. 1:30; Son 23.

Tema: Deur die geloof in Christus se werk het ons sekerheid dat ons regverdig voor God is.

 

I KORINTHIËRS 1:17-31

 

 17WANT Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.

18Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

19want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.

20Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?

21Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;

22want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid,

23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;

24maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.

25Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

26Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;

27maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;

28en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,

29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

30Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.

31Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

I KORINTHIËRS 2:1-16

 

1EN toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie,

2want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

3Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;

4en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag,

5sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.

6Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie.

7Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,

8 wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie — want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie —

9maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.

10Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.

11Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.

12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.

13Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

14Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

15Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

 

HEIDELBERGSE KATEGISMUS SONDAG 23

SONDAG: 23 -  59 Vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo? Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is.

SONDAG: 23 -  60 Vraag: Hoe is jy regverdig voor God? Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus, so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade die volkome genoegdoening6 , geregtigheid en heiligheid van Christus skenk. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart aanneem.

SONDAG: 23 - 61 Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is? Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.

 

Tema: Deur die geloof in Christus se werk het ons sekerheid dat ons regverdig voor God is.

 

Christus se genoegdoening.

Die Reformasie van die 16de eeu is deur die eenvoudige Skriftuurlike waarheid dat die regverdige deur die geloof lewe aan die brand gesteek. Hierdie belydenis is die basis van die heerlike troos wat ons in Christus Jesus het. Ons moet daarom ons ons aandag aan die werk van Christus gee. Om deur die geloof geregverdig te wees hou in dat ek deur die geloof dit wat Christus gedoen het nou my eie maak. Met die genoegdoening van Christus kan ons weet dat Hy deur sy kruisdood genoeg gedoen het om ons van al ons sondes te verlos.

 

Christus geregtigheid.

Die gevolg van Christus se genoegdoening is dat Hy as volkome geregverdigde nou aan die geregtigheid van God voldoen het. Hy het die prys van al ons sondes betaal sodat ons as gelowige kinders van God aan sy geregtigheid kan deel. Hy het volkome reg gedoen en aan al die eise van sy Vader voldoen. Deur die geloof kry ons nou deel aan hierdie heerlike rykdom van Christus. Die geloof is egter nie die vereiste waardeur daar aan God se geregtigheid voldoen word nie, maar is die middel waardeur ons ons aan die geregtigheid van Christus kan vashou

 

Christus se heiligheid.

Die gevolge van die geregtigheid wat ons nou deur die werk van Christus ontvang het gee ons deel aan die heiligheid wat Hy vir ons verwerf het. Om heilig te wees beteken om aanneemlik vir die God te wees en totaal aan hom gewy. In die brief van Paulus word die geregtigheid, heiligheid en verlossing in een sin genoem. Dit beklemtoon net weereens die feit dat God ons verlos het sodat ons vir Hom aanneemlik kan wees, sodat sy Naam deur ons verheerlik sal word