|
Preek Sketse - 28 September 2025
Oggend diens—Dr Cristiaan Jooste Sing: Ps. 92:1,2; Ps. 92:7; Ps. 32:2,5; Ps. 75:2,3,4; Ps. 91:2,6. Lees: Rig. 16:1-21 Teks: Rig. 16:19 Tema: Christus is verlaat om ons van God se oordeel oor die sonde te verlos.
Rigters 16:1-21 1 En Simson het na Gasa gegaan en daar 'n hoer gesien en by haar ingegaan. 2 Toe die Gasiete die tyding kry: Simson het hier ingekom, omsingel hulle hom en lê hom die hele nag voor by die stadspoort, maar die hele nag het hulle hul stilgehou en gesê: Teen dagbreek sal ons hom doodmaak. 3 En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê. 4 Daarna het hy 'n vrou in die dal Sorek liefgekry, wie se naam Delíla was. 5 Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en sê vir haar: Haal hom oor en vind uit waardeur sy krag so groot is, en waardeur ons hom kan oorweldig en hom kan bind om hom te bedwing; dan sal ons jou elkeen elf honderd sikkels silwer gee. 6 Toe vra Delíla vir Simson: vertel my tog waardeur jou krag so groot is, en waarmee jy gebind kan word om jou te bedwing. 7 En Simson sê vir haar: As hulle my bind met sewe vars lyne wat nie uitgedroog is nie, dan sal ek swak word en wees soos 'n ander mens. 8 Daarop het die vorste van die Filistyne vir haar sewe vars lyne gebring wat nie uitgedroog was nie, en sy het hom daarmee gebind. 9 En terwyl haar spioene in die kamer klaar sit, sê sy vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! Toe verbreek hy die lyne soos 'n vlasdraad breek as dit vuur ruik; maar sy krag het nie bekend geword nie. 10 Toe sê Delíla vir Simson: Kyk, jy het my bedrieg en vir my leuens vertel; vertel my nou tog waarmee jy gebind kan word. 11 En hy antwoord haar: As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee geen werk gedoen is nie, dan sal ek swak word en wees soos 'n ander mens. 12 Toe het Delíla nuwe toue geneem en hom daarmee gebind en vir hom gesê: Die Filistyne op jou, Simson! terwyl die spioene in die kamer klaarsit; maar hy het dit soos 'n draad van sy arms af verbreek. 13 En Delíla sê vir Simson: Tot nou toe het jy my bedrieg en vir my leuens vertel; vertel my waarmee jy gebind kan word. En hy antwoord haar: As jy die sewe haarvlegsels van my hoof met die weefsel saam invleg. 14 Sy druk dié toe vas met die pen en sê vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! En hy het wakker geword uit sy slaap en die weefpen met die weefsel uitgeruk. 15 Toe sê sy vir hom: Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! terwyl jou hart nie met my is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag so groot is nie. 16 En omdat sy hom met haar woorde aldae gepers en by hom aangedring het, het hy so ongeduldig geword, dat hy kon sterf. 17 En hy het sy hele hart aan haar bekend gemaak en aan haar gesê: Daar het nooit 'n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is 'n nasireër van God van my moeder se skoot af: as ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak word en wees soos al die mense. 18 Toe Delíla sien dat hy sy hele hart aan haar bekend gemaak het, laat sy die vorste van die Filistyne roep en sê: Kom hierdie keer op, want hy het sy hele hart aan my bekend gemaak. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en bring die geld met hulle saam. 19 En sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep en die sewe haarvlegsels van sy hoof afgeskeer. En sy het begin om hom te bedwing, en sy krag het van hom gewyk. 20 Toe sê sy: Die Filistyne op jou, Simson! En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie. 21 Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.
Tema: Christus is verlaat om ons van God se oordeel oor die sonde te verlos.
Die spel met die sonde In die laaste hoofstuk wat oor die geskiedenis van Simson handel sien ons die laagtepunt van Simson se verlore stryd teen sy sondige natuur. Wanneer hy op Delila verlief raak verval hy in ʼn spel met die sonde waarin hy eindelik alles verloor. Dit is die manier waarop die Satan voortdurend poog om die gelowige kinders van die Here te mislei. Wat vir Simson ʼn ligsinnige speletjie was, was by die Satan dodelike erns. Ons dink dikwels dat ons volle beheer oor ons sondige natuur het, dan gaan ons roekeloos met die gawes van die om. Ons moet egter ons swakheid ken en altyd van die sonde wegvlug.
Die uitwerking van die sonde. Hierdie dodelike spel van die sonde het ʼn geweldige uitwerking in die lewe van Simson gehad. Hy het gedink dat hy weer van die Filistyne sal loskom, maar dit was nie die geval nie. Hy het geen krag gehad om weerstand te bied nie. Hy is gevange geneem, sy oë is uitgesteek en hy moes die meul in die gevangenis draai. Die geweldige uitwerking wat sy spel met die sonde gehad het is dat hy nie sy roeping gehoorsaam kon uitleef nie. Dit is ook die geval met ons eie sonde. Die uiteinde is dat ons dade woorde en werke nie tot die eer en verheerliking van ons Vader is nie.
Die gevolge van die sonde Die diepte punt van Simson se spel met die sonde was realiteit van die gevolge. Hy het nie geweet dat God van Hom gewyk het nie. Die Gees van die Here het nie meer tot sy hulp gekom nie. Hy is deur God verlaat. So sien ons Simson as die tipe van Christus want Hy is deur God verlaat sodat ons nooit weer deur die Here verlaat sal word nie. Hy het die bange Godverlatenheid gelei sodat ons kan weet dat God nou altyd naby aan ons sal bly. Tog omdat God nou naby is moet ons daagliks volhard om in sy nabyheid te leef en Hom in met dankbare gehoorsaamheid te dien.
Aand diens—Dr Cristiaan Jooste
Sing: Ps. 103:1,2; Ps. 31:1,3,17; Ps. 146:1,6. Lees: Mar 10:17-31; Son 24 Teks: Mar 10:21; Son 24 Tema: Alhoewel ons nie deur goeie werke gered word nie beloon God dit uit genade. Mar 10:17-31
17 En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? 18 En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. 19 Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder. 20 Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. 21 En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort--gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. 22 Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 23 Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! 24 En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! 25 Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. 26 En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? 27 Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. 28 Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. 29 En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, 30 of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe. 31 Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.
Heidelbergse Kategismus: Sondag 24
SONDAG: 24 - 62 Vraag: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie? Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem1 en omdat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is. SONDAG: 24 - 63 Vraag: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon? Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee. SONDAG: 24 - 64 Vraag: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie? Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.
Tema: Alhoewel ons nie deur goeie werke gered word nie beloon God dit uit genade.
Die onvermoë van ons goeie werke Die mens is in staat om die goeie te doen. Tog kan die goeie werke van die mens geen bydrae aan sy saligheid maak nie. Die ryk jong man wat na Christus gekom het, het ook geworstel met die vraag of dit wat hy gedoen het genoeg is om sy saligheid te verseker. Hy het gedink dat sy gehoorsaamheid aan die wet sekerheid van sy saligheid kan gee. Die antwoord van die Kategismus is baie duidelik dat ons ons nie op ons goeie werke kan beroep om aan die geregtigheid van God te voldoen nie, want niks wat ons doen kan getuig van ʼn volmaakte gehoorsaamheid aan Hom nie.
Die beloning van ons goeie werke. Dit laat die vraag nou natuurlik opkom watter nut ons goeie werke tog het. Gaan dit ongesiens voor die aangesig van die Here verby. Die Skrif leer duidelik dat die wat goeie werke doen en die wet onderhou eindelik tog beloon word. daardie beloning word in hierdie lewe sigbaar in seëninge en in die toekomstige lewe sal ons as erfgename die volle loon van God ontvang. Tog word hierdie loon nie uit verdienste gegee nie maar op grond van God se genade. Dit is God wat ons gewillig maak om die goeie te doen en ons in staat stel om daarin te volhard.
Die vrug van ons goeie werke. Die klem wat ons op die onverdienstelikheid van ons goeie werke en die genade van God lê mag moontlik aanleiding gee tot roekeloosheid. As hier dan geen verdienste by betrokke is nie en alles net uit genade aan ons gegee word kan die gevolg maklik roekeloosheid wees. die een wat egter deur ʼn ware geloof in Christus ingeplant is kan nie anders as om die vrug van goeie werke te dra nie. Waar Christus deur sy Gees die gawe van geloof gee sal die vrug in oorvloedige dankbaarheid uitspruit.
|
